Suid-Afrika staan op die rand van ‘n ekonomiese afgrond en al wat die ANC-regering doen om die land uit dié ideologiese put van mislukking te kry, is om dieper te grawe.
Dit spreek duidelik uit die Mededingings-Wysigingswetsontwerp wat verskeie onbedoelde gevolge kan hê wanneer dit toegepas word in ‘n komplekse omgewing soos Suid-Afrika. Die opbreek en reorganisasie van sake-ondernemings kan ongekende skade veroorsaak in ‘n tyd daar juis gesteun moet word op sterk en groot ondernemings om die land ekonomies vorentoe te neem.
Daar kan moontlik op ‘n ingeligte wyse na ekonomiese herstrukturering gekyk word in goeie ekonomiese tye ten einde die ekonomie te verbreed, maar nie wanneer die land in ‘n diep put sit nie. Dit lyk ook of die wetsontwerp eerder daarop gerig is om die bestaande ekonomiese struktuur te wysig en te herverdeel eerder as om die ekonomie te laat groei. Suiwer herverdeling sonder groei is onvolhoubaar.
Een van die mees ontstellende aspekte van die wetsontwerp is die voorneme om onvoorsiene magte aan die president en die minister te gee om in die mark in te gryp en buitelandse beleggings te staak in 'n tyd wanneer daar aktiewe pogings is om buitelandse beleggers te lok.
Dit stuur die boodskap na buite dat Suid-Afrika oop is vir sake, maar dat die ANC sal besluit of beleggers welkom is waarna hul bates steeds onteien kan word sonder vergoeding.
Hierdie wetsontwerp, saamgelees met onteiening sonder vergoeding, kan boonop daartoe lei dat Suid-Afrika uit die AGOA-ooreenkoms geskop word. Artikel 104 van AGOA stel dit duidelik dat regeringsinmenging in die mark nie geduld word nie. Dit sal katastrofies vir die land wees.
Artikel 2.1 van die wetsontwerp lui soos volg: "Die hoofdoelwit van hierdie wysigings is om twee volgehoue strukturele beperkings aan die Suid-Afrikaanse ekonomie aan te spreek, naamlik die hoë vlakke van ekonomiese konsentrasie in die ekonomie en die skewe eiendomsprofiel van die ekonomie."
Die grootste probleem met die regering is dat hy voorskryf aan die samelewing sonder om homself aan die reëls verbonde te hou en die samelewing benadeel sonder om self aan skade blootgestel te wees weens sy eie beleid.
Indien die ANC eerlik is in sy oortuiging om die vlakke van ekonomiese konsentrasie en die eienaarskapsprofiel te verander, moet hy eers die voorbeeld stel deur die ontbondeling van staatsdinosourusse in die vorm van Eskom, die SAL, ACSA, Transnet, Prasa, die OBK en al die ander wat net bestaan om gestroop te word.
Indien die ANC nie bereid is dit te doen nie, sal die regering nie ernstig beskou kan word oor die doelwitte van dié wetsontwerp nie. Die beste wat die ANC kan doen is om uit die ekonomie se pad te kom sodat dit spontaan kan groei tot voordeel van alle Suid-Afrikaners.
Kontaknommers: 082 391 3117 / 065 801 7216