Dit blyk dat die burgemeester van die Mbombela-plaaslike munisipaliteit, Sibongile Makushe, se beloftes vir watermeteroudits net lippetaal was.
Die Mbombela-raad het op 31 Mei 2021 'n mosie aanvaar aangaande die noodsaaklike lees van watermeters dwarsdeur die munisipaliteit (Mbombela/Nelspruit, Barberton, Hazyview, Kaapsehoop, Skukuza, Witrivier).
Die VF Plus het in Maart 2022 versoek dat wateroudits gedoen word sodat Mbombela sy waterverbruik en -verliese kan evalueer. Die burgemeester het tydens 'n ope raadsvergadering aangedui dat oudits sal begin en dat terugvoer by wyse van verslae aan die raad op die versoek sal geskied.
Tot op hede is geen verslag oor die oudits ter tafel gelê nie. Daar was ook geen terugvoer op skriftelike vrae wat aan die burgemeester gestel is nie.
Intussen word inwoners van Mbombela wat maandeliks waterrekeninge sonder watermeterlesings ontvang, gedreig dat hulle water afgesny gaan word indien die rekeninge nie vereffen word nie.
Dit is niks anders as die afpersing van belastingbetalers nie. Sommige belastingbetalers betaal sedert 2012 nie waterrekeninge nie maar ontvang steeds water.
Sommige belastingbetalers se watermeters is ondergronds, terwyl ander se watermeters onderstebo geïnstalleer is en dus onmoontlik is om te lees.
Die gebrek aan implementering van hierdie raadsbesluit lei tot die moontlike verkwisting van finansies en met 'n bietjie moeite is dit baie maklik om reg te stel.
Verdere vrae sal aan die Mbombela-bestuur gestuur word en indien dit nie beantwoord word nie sal 'n klag by die nasionale verbruikerskommissie indien.
Dit sou nie gebeur as dit 'n VF Plus-bestuurde munisipaliteit was nie.