Die minister van polisie, Fikile Mbalula, se versoek dat die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) ontplooi moet word ter ondersteuning van die polisie in die Wes-Kaap en sekere dele in Gauteng, is ‘n erkenning dat misdaad buite beheer is, sê dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus en hoofwoordvoerder oor polisie en verdediging.
“Die SANW se bystand aan die polisie is nie ongehoord nie, maar beslis nie wenslik nie. Suid-Afrika is nou weer terug in die jare tagtig waar soldate en weermagvoertuie die townships moes patrolleer om misdaad te bekamp. Hierdie situasie moet vierkantig op die skouers van die regering, en veral op dié van pres. Thabo Mbeki en Jacob Zuma geplaas word.
“Die president stel die nasionale kommissaris van polisie aan en al die aanstellings sedert 1999 (Jackie Selebi) tot nou toe was ‘n mislukking.
“Ons pluk ook nou die wrang vrugte van die politieke kaping van die intelligensie-instellings. Omdat hierdie instellings nie misdaad bestry nie, maar aangewend word vir politieke doelwitte, gedy misdaad in Suid-Afrika met die gewone landsburgers wat selfs met hul lewens daarvoor moet boet. Dit is ‘n verdere klad op die naam van die regering.
“Drastiese stappe sal geneem met word en daar sal by die polisie ingegryp met word aangesien misdaad die land na die rand van anargie dryf. Dit is onstellend dat gemeenskappe al hoe meer die reg in eie hande neem en halsnoermoorde toepas op verdagtes wat as misdadigers beskou word.
“Gemeenskappe doen net dit as hulle hul vertroue in die polisie verloor het soos tans in Marikana in Philippi in die Wes-Kaap gesien word,” sê dr. Groenewald.
Kontaknommers: 083 627 4397 / 065 801 7216