fbpx
Vryheidsfront Plus

Mantashe nie die regte minister vir ‘n energiekrisis

Die minister van minerale hulpbronne en energie, mnr. Gwede Mantashe, het bewys dat hy nie die regte minister is om Suid-Afrika uit die huidige krisis te lei nie. Daarom sou sy uitspraak in vandag se Mail & Guardian dat mnr. André de Ruyter nie die regte persoon is om Eskom te lei nie, snaaks gewees het as die saak minder ernstig was.

Mantashe se stelling kom te midde van toenemende druk op alle rolspelers om die energiekrisis in Suid-Afrika op te los voordat dit in 'n nasionale ramp ontaard.

Hy vergelyk De Ruyter met die operasionele hoof van Eskom, mnr. Jan Oberholzer, wat volgens Mantashe duidelik laat blyk dat hy presies weet wat aangaan en hoe sake reggeruk moet word.

Volgens Mantashe sal iemand soos De Ruyter 'n beter rol kan speel as die regrukfase afgehandel is. Hy betreur ook die feit dat die Eskom-raad nie 'n rekenmeester of 'n ingenieur insluit nie.

Mantashe is sedert 2019 die minister van minerale hulpbronne en energie. Met sy aanstelling was daar optimisme dat hy die dringende aksie wat noodsaaklik was om die dreigende krisis die hoof te bied, sou kon neem. Intussen het die hoop beskaam.

Die burokratiese rompslomp om hernubare kragprojekte goedgekeur en aanlyn te kry, is reeds berug.

Dit is ook 'n ope geheim dat president Cyril Ramaphosa die besluit dat onafhanklike kragprojekte tot by 100 MW sonder toestemming gebou mag word, teen die sin van Mantashe aangekondig het. Intussen lui hardnekkige gerugte dat die registrasie van hierdie projekte administratief vertraag word.

Mantashe se oplossing vir die kragkrisis wentel om steenkool en aardgas. Hy het herhaaldelik 'n persoonlike toewyding tot steenkool uitgespreek, terwyl sy departement volhou met pogings om vir ru-olie en aardgas langs die Suid-Afrikaanse kus te prospekteer.

Hidrobreking vir aardgas in die Karoo is tans weer op die tafel nadat 'n hofuitspraak die vorige regulasies verwerp het.

Hierdie gebied, wat soms as halfwoestyn geklassifiseer word, word al vir millennia volhoubaar benut. Vrese is dat hidrobreking die skaars waterbronne kan uitput en/of besoedel.

Op 15 Julie was daar 'n pre-colloquiem of voorlopige gesprek oor die volhoubare en verantwoordelike benutting van die land se olie- en gasbronne. Die departement van minerale hulpbronne en energie het dit saam met die departement van omgewingsake, bosbou en vissery aangebied.

Dit was opvallend hoe woordvoerders van die departement van energie op die potensiële omvang van die bronne klem gelê het terwyl woordvoerders van omgewingsake die gebruik daarvan bevraagteken het.

Die Suid-Afrikaanse motornywerheid is volgens omgewingsake se woordvoerders sodanig met die res van die wêreld geïntegreerd, dat binnebrandenjins hier nie langer as by handelsvennote sal oorleef nie.

Die gesprek het soms heftig geraak, met sekere deelnemers wat daarop aangedring het dat Afrika nie gedwing kan word om besoedelende praktyke te staak nadat Westerse lande hul welvaart op soortgelyke praktyke gebou het nie.

Ander wou weer weet waarom Afrika sou verkies om te besoedel indien dit nie nodig is nie.

Wat duidelik geblyk het, is dat die departement wat onder Mantashe se leiding staan, oplossings in nostalgiese denkbeelde van groot staatskorporasies en owerheidsgesteunde besoedeling soek.

Boonop het Ramaphosa in die week met die gedagte van 'n "tweede Eskom" (die keer in Mantashe se departement) na vore gekom – asof daardie minister en daardie departement 'n naam het dat hulle dinge gedoen kry!

Mantashe het reeds aangedui dat hy geen aandeel in die kragkrisis het nie omdat Eskom onder die departement van openbare ondernemings – en nie onder sy departement nie – val.

Dit is inderdaad tyd dat minister Mantashe liewer self aftree as om opmerkings oor instansies buite sy departement maak.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.