Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Mangaung én Centlec moet verantwoordelikheid neem vir straatligte

Die stadige tempo waarteen straatligte herstel en in stand gehou word in die Mangaung-metro munisipaliteit (Bloemfontein, Dewetsdorp, Soutpan, Van Stadensrus, Wepener), hou veiligheidsrisiko’s vir inwoners in.

Talle straatligte is buite werking, sommige veroorsaak kragonderbrekings en verskeie ligte brand helder oordag. Dié probleem word vererger deurdat klagtes nie aangemeld kan word nie, aangesien die Centlec-belsentrum feitlik nie funksioneer nie. Word die klagte by die Mangaung-inbelsentrum aangemeld, word inwoners egter aangesê om dit direk by Centlec aan te meld.

Die probleem kan nie bloot aan die grendelstaat toegeskryf word nie, aangesien daar foutiewe straatligte is wat reeds in Oktober 2019 aangemeld is, wat steeds nie herstel is nie.

Amptenare beweer dat daar verskeie redes vir die gebrekkige herstel is, soos die nie-beskikbaarheid van gloeilampe en brandstof vir voertuie. Dit dui verder op swak beplanning en gebrekkige bestuur.

Hierdie kwessie is een van die talle diensleweringsprobleme waaronder Mangaung gebuk gaan en waar daar geen politieke leierskap getoon word nie.

Inwoners van Mangaung mag nie ly onder die onvermoë van die ANC-leierskap om te begroot, te beplan en te implementeer nie.

Die waarnemende burgemeester, stadsbestuurder en die betrokke departementshoof, behoort hierdie probleem met Centlec op te neem en Centlec moet verantwoordelik gehou word vir die nodige herstelwerk.

Die VF Plus het reeds ‘n lys van probleme met straatligte opgestel en sal dit tydens ‘n amptelike vergadering met Centlec aan die betrokke amptenare oorhandig.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.