fbpx
Vryheidsfront Plus

Mangaung-inwoners het geleentheid om insette te lewer oor ontwikkeling

Die Mangaung-metro-munisipaliteit het ‘n ruimtelike ontwikkelingsraamwerk beskikbaar gestel vir openbare kommentaar en insette en versoek dat die publiek skriftelike vertoë rakende hierdie konsepraamwerk indien.

Sowat agt gebiede in die metro is in hierdie ontwikkelingsraamwerk geïdentifiseer vir middel- tot laekostebehuising. Brandkop en Ceciliapark is onder meer geïdentifiseer vir ontwikkeling en sal die volgende gebiede by implikasie direk raak: Pellissier, Fichardtpark, Gardeniapark, Universitas en Langenhovenpark.

Hierdie beplande ontwikkeling sal ‘n geweldige invloed op dienslewering vir die metro inhou. Dit sal ‘n enorme impak op die bestaande infrastruktuur hê, veral in Pellissier wat eerste gebuk gaan onder watertekorte wanneer lae waterdruk ervaar word, asook Langenhovenpark en Universitas wat reeds nie die huidige hoeveelhede riool kan hanteer nie.

Die metro kan reeds nie by die bestaande vullisverwydering-skedule hou nie en die party voorspel dat hy nie die toenemende diensleweringslaste met ‘n toename in inwoners in die betrokke woongebiede doeltreffend sal kan beheer nie.

Die VF Plus bevraagteken dit of voldoende impakstudies oor die beplande ontwikkeling gedoen is. Die beplande ontwikkeling sal vanuit die staanspoor faal indien die metro nie bewyse kan lewer dat dienslewering wel tot voordeel van alle inwoners sal verbeter nie.

Openbare insae is uiters belangrik om toekomstige kwaliteit-dienslewering in die metro te bepaal. Die VF Plus versoek hiermee dat inwoners van die metro aktief aan hierdie proses deelneem en insette lewer.

Insette kan tot en met 26 Mei 2020 skriftelik ingedien word by:

Mnr T. Mabuza
Hoofbestuurder: Geografiese inligtingsdienste
Kamer 818, Bram Fischer-gebou
H / v Nelson Mandelarylaan en Markgraafstraat
Bloemfontein
9301

of

per e-pos aan: tilfred.mabuza@mangaung.co.za gedurende kantoorure (van 07:45 tot 16:15 Maandag tot Vrydag). Die insette wat ontvang word, sal beoordeel en opgeneem word in die finale ontwikkelingsraamwerk-verslag en sal voorgehou word vir goedkeuring deur die Mangaung Metropolitaanse Munisipale Raad.

Kontaknommer: 064 847 1560

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.