Die Maluti-a-Phofung-plaaslike munisipaliteit (Harrismith, Kestell, Phuthaditjhaba) is een van die grootste mislukkings in die Vrystaat en dien as bewys dat die ANC nie daartoe in staat is om enige munisipaliteit volhoubaar te regeer nie.
Die munisipale bestuurder, Futhuli Mothamaha, het die hoof finansiële beampte, Jeremiah Baleni-Mazinyo, sowel as sy eie salaris met onderskeidelik R440 000 (tot R1,596,747-00 per jaar) en R563 000 (tot R1,987,402-00 per jaar) verhoog binne die eerste maand van diens.
Sowat 1400 munisipale werkers se salarisse is ook met 28% verhoog gedurende die Covid-19-tydperk.
Geen munisipale rekeninge vir dié munisipaliteit is tussen 2017 en 2019 gelewer nie. Die enorme verlies aan inkomste het bygedra tot R5,3 miljard aan Eskom-skuld. Verder word sowat R167 miljoen benodig om die leweringskapasiteit te vergroot. Dié kragprobleme het reeds tot gevolg gehad dat buitelandse beleggers projekte ter waarde van R540 miljoen onttrek het.
Intussen werk nie ‘n enkele watersuiweringsaanleg in die munisipaliteit nie en dit veroorsaak onder meer grootskaalse besoedeling van die Wilge- en Vaalrivier.
Boonop ontvang inwoners feitlik geen diens nie, maar die rekeningpligtige amptenaar van die munisipaliteit ag dit steeds regverdig om sulke buitensporige verhogings toe te ken.
Die probleme in Maluti-a-Phofung is diepgewortel in wanadministrasie, swak bestuur, korrupsie en bedrog en sal nie oornag opgelos kan word nie. Hierdie munisipale raad moet ontbind, aangesien daar geen verantwoordbare politieke leierskap in die ANC-beheerde raad aan die dag gelê word nie.
Munisipale afbakening moet hersien word om kleiner, meer volhoubare munisipale eenhede daar te stel. Dit sal meehelp om hierdie soort probleme op te los.
Navrae: 072 997 8315