Die chaos in die Mafube-plaaslike munisipaliteit is ‘n direkte gevolg van die ANC se onvermoë om behoorlike bestuur toe te pas, aldus Wouter Wessels, VF Plus-LPW in die Vrystaatse Wetgewer.
Dit volg na die Mafube-munisipaliteit, wat Frankfort, Villiers, Cornelia en Tweeling insluit, onder administrasie geplaas is en amptenare se salarisse reeds sedert 25 April uitstaande is. Van die amptenare het reeds in opstand gekom en bande en ander voorwerpe voor die hoofgebou van die munisipaliteit gebrand. ‘n Voertuig met gereedskap van munisipale waterwerke is ook Donderdagaand gesteel en word daar nou gevrees dat die waterwerke, soos in die verlede al gebeur het, gesaboteer gaan word. Die munisipale kantore is al vir 'n geruime tyd gesluit en geen dienslewering geskied nie.
Wessels meen dit is onaanvaarbaar dat die provinsiale regering doodstil is oor die totale chaos wat in 'n munisipaliteit heers wat onder provinsiale administrasie verkeer. Dit is nodig dat die regering onmiddellik ingryp en die situasie in Mafube tot so 'n mate beredder dat inwoners se reg tot basiese dienslewering beskerm word.
Die Mafube-munisipaliteit se salarisrekening beslaan ongeveer 60% van sy begroting en hoewel dienslewering in die munisipale gebied in die verlede gebrekkig was, geskied daar nou geen vorm van dienslewering in enige van die dorpe nie.
“Die VF Plus veroordeel enige vorm van geweld en verwag dat amptenare wat hulself aan saakbeskadiging, diefstal en enige ander vorm van misdaad weens die huidige omstandighede skuldig maak vervolg moet word. Dit is tyd dat die polisie intree om wet en orde in Mafube te herstel.
“Ons is tans in gesprek met die provinsiale regering, wat moet toesien tot spoedige administrasie plaasvind en ‘n mate van normaliteit herstel in die munisipaliteit. Die politieke wil moet bestaan om stelsels en prosesse op standaard te kry en behoorlike finansiële bestuur met bevoegde amptenare toe te pas,” het Wessels gesê.
Kontakbesonderhede: 082 674 6670


