fbpx
Vryheidsfront Plus

Madonsela-verslag ‘n verdoemende getuigskrif van ‘n korrupte regering

Die verslag van die voormalige Openbare Beskermer adv. Thuli Madonsela is ‘n skokkende getuigskrif van ‘n regering en staatsinstellings wat onder ‘n bevlekte staatspresident deurkanker geword het van oneerlikheid en korrupsie in klaarblyklik totale onderdanigheid aan die Guptas van Saxonwold, sê dr. Pieter Mulder, leier van die VF Plus.

Dr. Mulder sê gegewe die 355 bladsye wat ‘n verhaal van ongebreidelde oneerlikheid skets, moet die volle ANC-kabinet saam met sy president in die beskuldigdebank geplaas word aangesien hulle jare reeds deeglik bewus van die bewerings is.

Hy sê die VF Plus verwelkom die aanbeveling dat pres. Jacob Zuma binne 30 dae ‘n kommissie van ondersoek moet instel gelei deur ‘n regter wat die hoofregter self, en nie die president, moet aanwys.

“Adv. Madonsela se aanbeveling dat genoeg geld aan die kommissie beskikbaar gestel moet word om sy mandaat behoorlik uit te voer, slaan duidelik op haar persoonlike ondervinding met die staatskaping-ondersoek waar sy en haar kantor geknielhalter is deur ‘n gebrek aan fondse.

“Die ANC en sy leierskap kan nie langer ontken dat hul president ‘n klad op die land se naam is nie. Die kommissie sal in die belang van Suid-Afrika hard en diep moet sny om die kwaadaardigheid uit die regering en die samelewing van Suid-Afrika te verwyder.

“Daar sal egter verder gekyk moet word na hoe ver en diep die invloed van oneerlikheid deur staatsinstellings en semi-staatsinstellings gerysmier het. Eskom is een voorbeeld wat in die verslag deeglik behandel word.

“Daar sal ook ondersoek gedoen moet word na eenhede soos die Valke en sy hoof, lt.genl. Berning Ntlemeza, en die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) en sy senior bestuur onder adv. Shaun Abrahams.

“Artikel 96 van die Grondwet spel duidelik uit hoe ministers moet optree ooreenkomstig hul eie etiese kode. Dit behels onder meer dat hulle nie enige ander betaalde werk mag onderneem of hulle posisie mag misbruik om hulself te verryk nie. Die verslag van die Openbare Beskermer toon telkens aan hoe hierdie kode oortree is sonder enige optrede teen die betrokke individue.

“Teen die agtergrond van die verklaring moet daar nou ook ernstige vrae gevra word oor die optrede van die nuwe OB, adv. Busiswe Mkwhebane .

“Indien sy wel toegang gehad het tot die verslag en desnieteenstaande geen behoefte daaraan gesien het om dit verder te neem nie, en haar uitlatings dat staatskaping vir haar nie belangrik is nie, moet die rooi ligte hard en duidelik oor haar aanstelling flikker.

“Dit sal nou ondersoek moet word in ‘n poging om die gewas van die Zuma-era tot op die been oop te vlek en te verwyder,” sê dr. Mulder.

 

Kontaknommers: 083 419 5403 / 082 674 6670

 

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.