Die LUR vir onderwys in Gauteng, Panyaza Lesufi, het vandag tydens 'n sitting van die Gautengse wetgewer geweier om 'n vraag van die VF Plus te neem of te antwoord. Dit het plaasgevind tydens die begrotingsdebat van die departement van onderwys.
Die LUR het gespog dat 'n totaal van 43 nuwe skole in Gauteng gebou is sedert die 2014/15 finansiële jaar.
Die VF Plus se LPW, mnr. Philip van Staden, het in terme van die staande reëls van die wetgewer, reël 77(5), opgestaan en die speaker gevra of die LUR bereid is om 'n vraag van die VF Plus te antwoord. Die LUR het geantwoord dat hy nie kan verstaan waarom sy stem so geliefd is nie en die versoek geweier.
Die VF Plus wou net by die LUR verneem of al die 43 nuwe skole operasioneel is en indien nie, waarom nie en hoeveel skole wel operasioneel is. Die party wou ook by Lesufi weet hoeveel Afrikaanse skole daar nog oor is in die provinsie en hoeveel van hierdie nuwe skole Afrikaans is.
Die LUR se optrede vandag teenoor die VF Plus is 'n bewys dat die LUR nie bereid is om ongemaklike vrae te antwoord nie en dat hy sekerlik met hierdie optrede iets wil wegsteek. Die VF Plus is van mening dat indien Lesufi niks gehad het om weg te steek nie hy sy man sou gestaan het en die vrae beantwoord het.
Die VF Plus beskou Lesufi se optrede as laakbaar en onbeskof.
Kontakbesonderhede: 060 556 4347