Die premier van Limpopo, me. Phophi Ramathuba, het met haar provinsiale rede (Sopa) die toets van selfondersoek na die ANC se eie tekortkominge gefaal en eerder haar fokus verskuif na die verlede en eksterne faktore.
Só word gemeenskappe in Limpopo weer ontneem van eerlike leierskap en deursigtigheid wat noodsaaklik is om die provinsie se uitdagings aan te pak.
Alhoewel die premier die verwoesting van die onlangse vloede uitlig, wat 27 lewens geëis het en miljarde rande se skade aan infrastruktuur aangerig het, ontbreek daar steeds ’n konkrete aksieplan.
Die ANC word as “redder” voorgestel, terwyl dit juis dié party is wat die verval veroorsaak het wat die vloede blootgelê het.
Historiese verwysings, soos die 1956 Vroue-optog, word weer eens gebruik om inwoners met die vrees van apartheid in die verlede te hou, eerder as om werklike deurbrake in die hede te bewerkstellig.
Die premier spog met ’n daling in werkloosheid en Limpopo se bydrae tot die bruto binnelandse produk (BBP), maar die werklikheid is dat armoede en swak dienslewering steeds die daaglikse bestaan van inwoners bepaal.
Net so is die gebrek aan konkrete steun vir kommersiële boere te midde van die bek-en-klouseerkrisis ’n ernstige tekortkoming wat voedselsekerheid bedreig.
Die VF Plus sal aanhou om die regering verantwoordelik te hou vir sy onvermoë om Limpopo werklik te laat werk.
Die provinsie verdien meer as mooi woorde. Dit verdien daadwerklike optrede en ’n regering wat die toekoms bo die verlede stel.


