Straatligte in die Xanadu-landgoed by Hartbeespoort is hierdie week ná die VF Plus se toetrede herstel nadat die woongebied vir twee jaar snags in donkerte gehul was.
Alhoewel die landgoed binne die Madibeng-munisipale gebied val, is die spesifieke gebied by die Tshwane-metro se kragnetwerk ingeskakel.
Dit het blykbaar gelei tot jarelange verwarring en toutrekkery oor watter munisipaliteit verantwoordelik is vir die instandhouding en herstel van straatligte in die woonbuurt. Altesame 850 huishoudings is hierdeur geraak.
Selfs toe die landgoedbestuur aanbied om op eie koste die herstelwerk te doen, het die Tshwane-metro hulle ingelig dat sulke optrede onwettig sou wees en is hulle verbied om daarmee voort te gaan.
Die plaaslike wyksraadslid kon die inwoners skynbaar ook nie bystaan nie.
Die situasie is in Januarie onder die aandag van die VF Plus in Madibeng gebring waarna reëlings vir die herstel van die straatligte in samewerking met VF Plus-raadslede in Tshwane getref is.
Die VF Plus sal bly stry vir doeltreffende dienslewering en die uitskakeling van verlammende burokratiese rompslomp in munisipaliteite.