Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Lesufi wil rassisme-polisie skep om alle skole, onderwysers en leerlinge te monitor

Die LUR vir onderwys in Gauteng, Panyaza Lesufi, het vandag in die Gautengse wetgewer aangedui dat hy 'n komitee wil skep wat alle skole, onderwysers en leerlinge sal monitor vir enige sweem van rassisme.

Die aankondiging was nie beplan nie, maar het op 'n terloopse wyse plaasgevind tydens 'n skermutseling tussen Lesufi en adv. Anton Alberts (VF Plus-voorsitter en LPW) en Amanda de Lange (VF Plus-LPW en hoofsweep in die wetgewer) tydens die begrotingsdebat van die onderwysdepartement.

Die VF Plus spreek hom sterk uit teen enige sodanige polisiëringsliggaam wat op skole, onderwysers en leerlinge gaan spioeneer. Dit bring in herinnering die Stasi-spioenasiediens in Oos-Duitsland en het geen plek in 'n vrye demokrasie nie.

Dis natuurlik tekenend van die ANC se Marxistiese DNS waar alle aspekte van die samelewing tot in die fynste besonderhede gereguleer moet word en waar diegene wat nie daarby inval nie, vervolg en vernietig moet word.

Die skep van só 'n liggaam val ook duidelik buite die mandaat van die departement. Indien enige gevalle van rassisme sou plaasvind, is dit normale protokol dat die departement dit ondersoek nadat klagte ingedien is en dan die nodige stappe neem.

Daar is geen regverdiging vir die skep van 'n polisiefunksie wat gedurig op die hele skolegemeenskap spioeneer om iemand uit te vang oor rassisme nie.

Gegewe die ANC en Lesufi se posisie oor ras, sal die liggaam verseker misbruik word om wit op swart rassisme uit te snuffel terwyl teenoorgestelde rassisme eenvoudig nie aandag sal geniet nie.

Hierdie bevestig opnuut die rasse-obsessie wat Lesufi as persoon het sonder om werklik die wit en veral veelrassige Afrikaanse skole-gemeenskap te probeer verstaan. Die ironie is dat so 'n liggaam, sou dit ewewigtig optree, baie gou vir Lesufi self sou aankla gegewe sy rassistiese siening oor die Afrikaanse gemeenskap.

Lesufi het ongelukkig nie veel uitgewei oor die tydskale en verdere implementering van die plan nie.

Die VF Plus sal spesifieke geskrewe vrae hieroor by die wetgewer indien vir beantwoording deur Lesufi en sal nie huiwer om verdere stappe te neem om die belaglike plan in die kiem te smoor nie.

Navrae: 082 391 3117

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.