fbpx
Vryheidsfront Plus

Lesufi se rassisme-adviserende raad vir onderwys word in die sonde van rasse-vooroordeel gebore

Die VF Plus het op grond van 'n wetgewer-vraag aan die Gautengse LUR vir onderwys, Panyasa Lesufi, vasgestel dat die voorgenome onderwys-rassisme adviserende raad wat onderwysers en leerders moet ondersoek vir rassisme, gebore is in die sonde van rasse-vooroordeel.

Volgens die skriftelike antwoord wat die VF Plus van Lesufi ontvang het, is die rede vir die skep van die raad die bestaan van wit op swart rassisme.

Geen melding word gemaak van swart op wit rassisme nie. Dit is dus vir die VF Plus baie duidelik dat die raad tot stand gebring word ten einde wit onderwysers en leerders op 'n eensydige wyse te ondersoek sonder dat ag geslaan sal word op omgekeerde diskriminasie en rassisme.

Die VF Plus beskou dus die skepping van die raad as ongrondwetlik aangesien dit eensydig en arbitrêr diskrimineer teen wit onderwysers en leerders en sal 'n klag hieroor by die menseregtekommissie (MRK) indien.

Die beplande verwysingsraamwerk van die voorgenome raad gebruik, onder meer, voorbeelde soos die uitsluiting van swart leerders uit skole, en die gebruik van taal en godsdiens om uit te sluit as rasionaal vir die daarstelling van die raad.

Dit opsigself dien as bewys dat die voorgenome raad ook gebruik gaan word om sogenaamde data te versamel om nie-Engelstalige skole te teiken om hul taalbeleid te verander op grond van voorvalle van rassisme.

In wese is die voorbeelde eintlik ANC-kode om Afrikaanse skole seer te maak en alle skole te dwing om meertalig te word wat sal lei tot uiteindelike Engelstalige skole. Daarom beskou die VF Plus hierdie raad as 'n blote instrument wat die vernietiging van Afrikaanse en ander nie-Engelstalige skole moet verhaas.

Die ironie hiervan is dat Afrikaanse ouers se belastinggeld gebruik word om die raad te skep en sy lede te betaal wat daarop gerig is om hulle taal en kultuur te help vernietig terwyl Afrikaanse skole alreeds net 6% uitmaak van alle skole in Gauteng.

Dit is duidelik dat Lesufi se obsessie met rasse-politiek geboorte gegee het aan nog 'n polariserende gedrog, die keer in die vorm 'n Sowjet-era rassisme-polisie wat op onskuldige mense spioeneer.

Die VF Plus sal dit nie duld nie en sal alles in sy vermoë doen om die raad se skepping te keer.

(Die wetgewer-antwoorde en beplande verwysingsraamwerk is hierby aangeheg).

Navrae: 082 391 3117

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.