(Mosie in Wes-Kaapse wetgewer)
Die VF Plus het die Wes-Kaapse departement van gesondheid en maatskaplike ontwikkeling versoek om ook ‘n toets- en bewusmakingsveldtog ten opsigte van diabetes te loods.
Volgens die hoof van die departement, dr. Keith Cloete, is diabetes die naasgrootste oorsaak vir die hoë sterftesyfer onder persone wat positief toets vir Covid-19.
Dit beklemtoon die belangrikheid, nie net vir grootskaalse vooraftoetsing vir Covid-19 onder diabete nie, maar ook toetsing vir diabetes in gemeenskappe waar inwoners nie daarvan bewus is dat hulle dié siekte onder lede het en die gevare daarvan nie.
Die VF Plus het verder versoek dat die betrokke Wes-Kaapse ministers die beskikbaarheid en voorsiening van chroniese medikasie by alle staatsgesondheidsgeriewe in die provinsie ondersoek en daaroor verslag doen.
Die mosie is sonder enige beswaar aanvaar.
Die VF Plus beklemtoon opnuut die belangrikheid van toetsing en die beskikbaarheid van chroniese medikasie in hierdie tyd om die hoë sterftesyfer onder Covid-19-positiewe persone in die Wes-Kaap te verminder.
Die party spreek sy medelye uit teenoor die naasbestaandes van slagoffers en wens persone wat positief getoets is, beterskap toe.
Navrae: 082 907 9177