Die VF Plus beskou die jongste aanval op 'n Afrikaanse instelling deur die Gautengse LUR vir onderwys, Panyaza Lesufi, as die soveelste bewys dat die ANC die boom skraap en nie leiers het wat vir almal in Gauteng as ware leier en staatsman kan optree nie.
Die VF Plus beskou dit as 'n skande dat 'n rasse-opstoker en openlike Afrikaans-hater tot die leierskap van die ANC in Gauteng verkies is en boonop kan staan as 'n premierskandidaat in die nasionale verkiesing van 2024.
Dié reaksie van die VF Plus spruit voort uit 'n mediakonferensie wat Lesufi einde Junie gehou het en waar hy, onder andere, die VF Plus en 'n reeks ander Afrikaanse organisasies en instellings aangeval het.
Dit blyk nou dat die mediakonferensie 'n nadraai gehad het deurdat AfriForum 'n aanmaningsbrief aan Lesufi vir naamskending gerig het en hy vandag leedvermakerig die brief met kommentaar op sy Twitter-blad geplaas het.
Daarin maak hy onder meer die stelling dat hy nie geïntimideer of geboelie sal word nie en dat hy apartheid verslaan het.
Hierdie gedrag is lagwekkend en getuig van iemand met 'n grootheidswaan wat duidelik nie besef in watter groot moeilikheid die ANC by die kiesers, veral in Gauteng, is nie.
Ironies genoeg getuig die keuse van Lesufi as die ANC se leier in Gauteng ook dié party se morele bankrotskap.
Gauteng is 'n diverse provinsie met verskillende kulturele en taalgroepe wat almal vra vir 'n werklike beter lewe en gelyke geleenthede.
Die ANC kon in bykans 30 jaar nie daarin slaag om die provinsie te bestuur sodat die ekonomie vir meeste mense werksgeleenthede kon skep nie, maar hou hom deur middel van Lesufi besig met sinlose gevegte waar rasse-spoke opgejaag word waar geen bestaan nie, soos met die Hoërskool Overvaal en Jan Viljoen Hoërskool-voorvalle.
Wat Lesufi nie besef nie, is dat die meeste mense in Gauteng nie belangstel in polariserende dade nie, maar dade gerig op die skep van gehalte onderwys vir alle leerders in die provinsie sonder dat enige taalgroep benadeel word.
Die mense van Gauteng stel ook nie belang in 'n potensiële premier wat net vir sekeres regeer en andere demoniseer nie.
Daarom sal die VF Plus as deel van sy voortgesette "Stop Lesufi"-veldtog alles in die stryd werp om te sorg dat die ANC die verkiesing in 2024 verloor teen 'n koalisie van konstruktiewe partye waarin die VF Plus 'n leidende rol sal speel.
Gauteng verdien beter as Lesufi.