(Begrotingsdebat in Gautengse wetgewer oor departement van onderwys)
Die VF Plus het tydens die begrotingsdebat van die Gautengse onderwysdepartement, dit duidelik gestel dat dié departement onder leiding van die LUR, Panyaza Lesufi, nou ook finaal aangesluit het by die fees van korruptes wat eet uit die Covid-19-trog.
Die VF Plus het verwys na die bevindinge van die spesiale ondersoekeenheid (SOE) wat bevind het dat talle van die tenders vir die dekontaminasie en diep skoonmaak van skole onreëlmatig was.
Die VF Plus vind dit skokkend dat die fondse deur tenderpreneurs aangewend is vir items en dienste soos motors, huise, juweliersware en selfs plastiese sjirurgie. Die onderwysdepartement het soos die gesondheidsdepartement eerloos oorgegee aan liefde vir geld ten koste van die veiligheid van ons kinders.
Die VF Plus is van mening dat die tenders nooit eens nodig was nie, aangesien die tipe skoonmaak van geboue en skole nie vereis word deur die minister van gesondheid of die Wêreldgesondheidsorganisasie nie.
Die VF Plus het dit verder aan Lesufi gestel dat Suid-Afrika bankrot is, maar tog word daar links en regs straffeloos gesteel.
Indien dit nie gestaak word nie, sal die gewone mense in opstand kom teen die ANC.


