Gedurende die afgelope week is die begrotings van verskeie departemente van die Noord-Kaapse provinsiale regering gedebatteer. Die deurlopende tema in die VF Plus se deelname is die noodsaak van goeie regering vir ekonomiese groei, terwyl dit weer 'n voorwaarde vir die opheffing van armoede en ongelykheid in die provinsie is.
Lang afstande tussen dorpe, sowel as die klein bevolkings daarvan, kenmerk die Noord-Kaap. Vir die provinsiale regering, sakelui en gewone mense, verhoog dit die koste van hul alledaagse bedrywighede. Dit demp ekonomiese groei en die geleenthede vir nuwe toetreders tot die ekonomie.
Nogtans sou dit verkeerd wees om te fokus op faktore wat die Noord-Kaap 'n agterstand gee, aangesien daar soveel in die provinsie se guns is.
Die belangrikste is die oorvloed van son- en windenergie, wat weens nuwe tegnologie goedkoper word om te ontgin. Dit open groot moontlikhede vir energie-intensiewe bedrywe.
Die departement van ekonomiese ontwikkeling behoort die verwerking van yster- en mangaanerts in die provinsie te bemiddel. Toegevoegde waarde sal ekonomiese groei bevorder, terwyl kleiner volumes wat vervoer moet word, druk op die provinsiale infrastruktuur sal verlaag.
Nog 'n grondslag van die Noord-Kaapse ekonomie is landbou. Ekstensiewe veeboere weet dat die volgende droogte altyd om die draai is, terwyl besproeiingsboere, veral in die benede-Oranje, met vloede moet rekening hou.
Selfs goed gevestigde boere moes ondersteun word om die rampdroogte, wat plek-plek nog voortduur, te oorleef.
Kleinskaalse beginnerboere se opdraande stryd is selfs steiler. Te midde daarvan moet die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, nuwe boerderye help vestig, sonder om voedselsekerheid te ontwrig.
Selfs die beste ekonomiese geleenthede kan inwoners van die provinsie net bevoordeel indien hulle toepaslik daarvoor opgelei is.
Die provinsiale onderwysdepartement is verantwoordelik daarvoor om ongelykheid tussen skole en die gehalte van onderrig uit te skakel. Skole wat onderpresteer moet ondersteun word, sonder om die wat goed presteer, af te skeep.
Die bou en onderhoud van skole en paaie is, saam met ander infrastruktuur, in die hande van die departement van paaie en openbare werke.
Vandalisering van skole en die oorbenutting van landelike paaie beteken dat minder geld vir nuwe projekte beskikbaar is. Gemeenskappe en die privaatsektor se samewerking in die verband is noodsaaklik.
Wetstoepassing op Noord-Kaapse paaie is die taak van die departement van vervoer, veiligheid en skakeling. Die veiligheid van reisigers in die provinsie, sowel as dié wat slegs deur die provinsie reis, rus op hulle skouers.
Hoewel sommige padgebruikers verkeersbeamptes in 'n negatiewe lig beskou, is hulle onontbeerlik vir padveiligheid.
Dit is teleurstellend dat die verhewe doelwitte wat hierbo genoem is, dikwels deur swak bestuur of selfs korrupsie in die wiele gery word. Die VF Plus hou die uitvoering van departemente se pligte fyn dop.
Swak prestasie kan nie in hierdie provinsie, met sy wydverspreide armoede te midde van soveel hulpbronne, geduld word nie.