fbpx
Vryheidsfront Plus

Protesoptrede teen Phokwane-munisipaliteit: Inwoners keelvol om te betaal vir dienste wat nie gelewer word nie

Die gemeenskap van die Phokwane-plaaslike munisipaliteit (Hartswater, Jan Kempdorp en Pampierstad), is so keelvol vir die gebrek aan dienslewering en wanadministrasie in die munisipaliteit dat betalende inwoners môre (Vrydag) 'n protesoptog na die munisipale kantoorkompleks gaan hou.

Die totale verval bereik tans ongekende vlakke. Riool vloei in al drie dié dorpe se strate en veral Pampierstad en Jan Kempdorp word die ergste geraak. Die munisipaliteit is bewus van die probleem, maar daar word niks aan gedoen nie.

Paaie is weens swak instandhouding vol slaggate wat 'n groot gevaar vir voertuie inhou.

Vullisverwydering vind nie deurlopend plaas nie en in sekere dele van die munisipaliteit is dit jare gelede gedoen.

Die VF Plus-raadslid, Theo Joubert, se eie vullis is meer as vier weke gelede die laaste keer verwyder. Die onderskeie dorpe se sentrale sakegebiede het in vullishope verander.

Die munisipaliteit het met die voorgestelde begroting net sout in die wonde van betalende inwoners gevryf deur verhogings ver bo die inflasiekoers aan te kondig. Tariewe op water, riool en vullisverwydering is met 10% verhoog.

Verder word voorgestel dat eiendomsbelasting met 7% verhoog word. In 2020 is daar reeds ‘n verhoging van 21,5% goedgekeur. Saam met die herwaardasie het dit in sommige gevalle tot effektiewe verhogings van tot 70% gelei.

Hierdie verhogings in diensteheffings vind plaas terwyl dienste nie aan die gemeenskap gelewer word nie. Dit dryf die gemeenskap tot breekpunt .

Die Vaalharts-belastingbetalersvereniging het daarom besluit om ‘n protesoptog vir eerskomende Vrydag te reël waartydens ‘n griefskrif aan die burgermeester en die waarnemende munisipale bestuurder oorhandig sal word.

In die griefskrif word ‘n hele lys eise gestel. Die inwoners wil druk op die munisipaliteit plaas om beter dienslewering te verseker. Dit dra by tot die openbare deelnameproses wat nie na wense was nie.

Die VF Plus steun hierdie gemeenskapsaksie, solank as wat dit ordelik en binne die raamwerk van die wet plaasvind. Alle Covid-19-protokolle moet ook gevolg word. Dit bewys dat die gemeenskap wel aan die openbare deelnameprosesse wil deelneem.

Die gemeenskap voel dit is ‘n gesonde vertrekpunt om deur middel van 'n vreedsame protesaksie hul insette en misnoeë aan die munisipaliteit oor te dra.

072 938 8588

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.