Dit gebeur toenemend dat kapers in Mpumalanga polisiedrag gebruik om misdaad te pleeg en die VF Plus het die provinsiale LUR vir gemeenskapsveiligheid, Vusi Shongwe, versoek om ondersoek in te stel oor hoe misdadigers so geredelik polisieklere en ander polisietoerusting kan bekom.
Dit behoort vir die polisie self die grootste prioriteit te wees om uit te vind wat aangaan en waarom toegelaat word dat dit ‘n tendens vorm.
In die jongste voorval is die sportskut Nicolaas Devenish verlede Saterdag oorlede tydens 'n kapingspoging naby Delmas.
Luidens mediaberigte was sy aanvallers geklee in polisiebaadjies en polisiemaskers. Daar was glo ook blou ligte op die kapers se voertuig soortgelyk aan dié wat die polisie gebruik. Die oorledene het twee van sy aanvallers doodgeskiet, maar is nogtans noodlottig gewond.
Hierdie voorval was die jongste in 'n lang reeks soortgelyke voorvalle in die omgewing, waar kapers – geklee in polisiedrag – op motoriste toegeslaan het.
Dit tyd het aangebreek dat Mpumalanga se regering daadwerklike pogings aanwend om dié provinsie se inwoners te beveilig. Die VF Plus veg reeds teen die kommerwekkende poging van die regering om wetsgehoorsame mense van hul vuurwapens vir selfverdediging te stroop.