Die premier van Gauteng, Panyaza Lesufi, se skielike beloftes aan die inwoners van Eldoradopark oor beter polisiëring is niks anders nie as ‘n gejaag na wind en is boonop oneerlik.
Gedurende die byna 30 jaar wat die ANC in Gauteng aan bewind is, is daar nooit genoeg hulpbronne in Eldoradopark ontplooi om misdaad in bedwang te bring nie.
Lesufi het reeds tydens sy termyn as LUR vir onderwys bewys dat hy geen hart vir die mense van Eldoradopark het nie.
Hy het nie die skole behoorlik ondersteun nie en het selfs nie-Afrikaanse skoolhoofde laat aanstel by Afrikaanse skole wat tot opstande gelei het.
Dit is moeilik om in te sien waarom hy nou skielik iets positiefs vir die mense van Eldoradopark sal doen.
Die Eldorado-polisiekantoor het volgens die polisie se misdaadstatistiek vir die kwartaal Januarie tot Maart 2022 die veertiende posisie ingeneem van polisiekantore in Gauteng met die hoogste voorkoms van kontakmisdaad.
Hy was ook vyftiende wat die hoeveelheid transitorooftogte aanbetref en negende vir moord waar ‘n styging van 30% teenoor die vorige kwartaal ondervind is.
Die VF Plus het simpatie met die inwoners wat in September vanjaar hul erns met die misdaadtoename in dié gebied gewys het deur voor die polisiekantoor uit te kamp.
Hulle het dit gedoen om daarop aan te dring dat die regering stappe neem om die groei in misdaad die hoof te bied.
Lesufi se belofte om R2,4 miljard beskikbaar te stel vir die aanstel van 6 000 mense om strate te patrolleer, is net ‘n ander manier van werkskepping.
Dié geld kon beter aangewend gewees het om die huidige polisiekantoor met die nodige hulpbronne toe te rus om misdaadbekamping te verbeter.
Lesufi gaan homself weer die gramskap van die Eldoradopark-gemeenskap op die hals haal met beloftes van helikopters, hommeltuie en kringtelevisie wat nie gaan realiseer nie.
Hierdie politieke opportunisme gaan die ANC duur te staan kom.
Gauteng verdien beter as die ANC.