Die leier van die VF Plus, dr. Pieter Groenewald, sal môre (27 Oktober) ‘n strafregtelike klag aanhangig maak teen Julius Malema, EFF-leier, by die Kaapstad-sentraal polisiekantoor.
Dié strafregtelike klag volg na Malema se afstootlike en opruiende oproep op EFF-lede by dié party se onlangse provinsiale verkiesingskonferensie in die Wes-Kaap, dat daar afgereken moet word met ‘n wit man wat EFF-lede na bewering by ‘n skool aangerand het.
Hy het onder meer sy volgelinge gekritiseer omdat hulle nie reeds met die “wit man”, wat glo geïdentifiseer kan word, afgereken het nie.
Hy het hulle aangesê om die man in ‘n geïsoleerde plek te kry en dat ‘n “rewolusionêr” nie bang moet wees om “te moor” nie.
Hierdie uitlatings word nie deur Artikel 16 van die Grondwet se Handves van Regte, naamlik die reg tot vryheid van spraak, gedek nie.
Die aanhitsing tot geweld word eerder uitdruklik van hierdie vryheid uitgesluit en moet vervolg word.
Datum : 27 Oktober 2022
Plek : Kaapstad-sentraal polisiekantoor
Buitenkantstraat 28
Tyd : 09:30