Die VF Plus het die munisipale bestuurder van die Lekwa-plaaslike munisipaliteit (Morgenzon, Standerton), mnr. MJ Lamola, versoek om alle skool- of ander uitstappies na die plaaslike watersuiweringsaanleg stop te sit totdat veiligheidskwessies daar opgelos is.
Dit volg na ʼn onlangse skooluitstappie van die Sfisosethy Primary School na dié aanleg waarvoor die munisipaliteit toestemming gegee het.
Tydens die uitstappie is waargeneem dat staalplate en houtborde los oor gate in die vloere geplaas is wat enige oomblik kan skuif.
Reddingsboeie wat in die geval van ʼn noodsituasie gebruik moet word, is ook beskadig.
Verder is die trappe los en geroes. Dit is net ʼn kwessie van tyd voor hierdie trappe meegee en lei tot ʼn tragedie.
Die gebrekkige veiligheidsmaatreëls by die watersuiweringsaanleg is onaanvaarbaar, veral wanneer kinders blootgestel word aan hierdie risiko’s.
Dit bedreig ook die veiligheid van munisipale werkers by die perseel.
Die VF Plus eis dat geen verdere openbare uitstappies na die aanleg toegelaat word tot die nodige veiligheidsmaatreëls ingestel is nie.