Die VF Plus steun die stadsbestuurder van die Tshwane-metro, Johan Mettler, se besluit om kostebesparingsmaatreëls oor spyseniering in te stel.
Dit is in lyn met die voorskrifte van die nasionale tesourie (NT).
Luidens die verslag van die Tshwane-metroraad se openbare rekeningekomitee is ʼn bedrag van R119, 270 van die uitgekontrakteerde spyseniersbegroting vir die 2021/22-finansiële jaar aan Nendou Trading toegewys sonder voldoende toesig.
Die verslag onderstreep die gebrek aan deursigtigheid in tenderprosesse met fakture en kwotasies vir uitgawes wat nie soos vereis deur standaardprotokol verskaf is nie.
Die VF Plus het die aanbeveling gesteun dat betrokke kwitansies en fakture nagegaan word en aan die openbare rekeningekomitee voorgelê word.
Dit is noodsaaklik dat openbare fondse verantwoordelik en deursigtig gebruik word, veral in die lig van die ekonomiese uitdagings wat die metro in die gesig staar.
Die VF Plus vra vir deursigtigheid, aanspreeklikheid en verantwoordelike finansiële bestuur binne Tshwane.
Die party sal die situasie noukeurig bly monitor en rekenskap eis vir enige misbruik van openbare fondse.