Waarskuwings vanuit verskeie oorde, ook van die VF Plus, dat wetgewing wat arbeidsmakelaars uit die arbeidsmark dwing verreikende gevolge gaan hê, is besig om te realiseer, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor arbeid.
Luidens ‘n berig vandag in die Business Day, het die helfte van alle werkers wat deur arbeidsmakelaars in diens gestel is, hul werk verloor in die twaalf maande sedert veranderinge aangebring is aan die Wet op Arbeidsverhoudinge. Die wet dwing arbeidsmakelaars vir alle praktiese doeleindes uit die arbeidsmark.
Adv. Alberts sê die wet is net nog ‘n bewys van die ANC-regering se desperate pogings om Suid-Afrika en sy samelewing op elke moontlike gebied deur wette en beleid te beheer en te reguleer.
“Hierdie pogings van die regering om sentrale beheer oor alles uit te oefen, is suiwer Marxisties, en wat nou met die arbeidsmark gebeur, wys opnuut hoe vernietigend dit is. Boonop word Cosatu toegelaat om sy vernietigingswerk deur onbillike eise en stakings ongehinderd voort te sit. Dit verg geen kundige om te voorspel dat nog duisende mense hul werk in die proses gaan verloor nie.
“Die ANC het nou werklik eksperts geword in die vernietiging van werkgeleenthede, en is in die proses besig om die land ook te vernietig.
“Navorsing van die Free Market Foundation, wat onder 500 van die grootste arbeidsmakelaars in die land gedoen is, het vyf maande gelede reeds bevind dat 254 000 mense as ‘n direkte gevolg van die optrede teen arbeidsmakelaars hul werk in die afsienbare toekoms gaan verloor.
“Daar is bereken dat 254 000 poste tot einde April reeds verlore sou wees. Die tragedie van buitensporige vakbond-eise en striemende arbeidswetgewing is dat net ‘n handjievol bevoordeel word deur hoër salarisse en ‘n vaste betrekking.
“Dit word bereik ten koste van honderde duisende wat hul werk en inkomste verloor as ‘n direkte gevolg hiervan,” sê adv. Alberts.
Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403