Suid-Afrika is in groot moeilikheid. Die staatskas is leeg geplunder, die ekonomie is in ‘n resessie, werkloosheid is ‘n krisis en die behoefte aan dienste en maatskaplike bystand neem toe. Ons is oor die rant van die afgrond en in ‘n donker tonnel met min voortuitsig vir lig aan die einde.
Daar hoef nie uitgebrei te word oor hoekom die land homself in hierdie krisis bevind nie. Wat ‘n voldonge feit is, is dat die huidige fiskale en ekonomiese krisis nie weens die COVID-19-pandemie ontstaan het nie. Dit het die krisis vererger, maar ons was reeds in hierdie gemors lank voor COVID-19 se aankoms in die land.
Wat wel belangrik is, is hoe om uit die krisis te kom. ‘n Paradigmaskuif is nodig. Maatskaplike behoeftes neem toe en die belastingbasis krimp weens ekonomiese omstandighede.
Die oplossing is laer belasting. Die ekonomie moet gestimuleer word en die belastingbasis moet groei. Eerder om die paar belastingbetalers swaarder te belas, moet die basis uitgebou word deur belastingverligting en ander -insentiewe.
Stygende belasting en heffings en dalende dienslewering verdryf beleggers en demp ekonomiese groei. Die bestuur van uitgawes en groei van die ekonomie om sodoende die inkomstestroom te verhoog, is die oplossing.
Die regering moet belasting verdien, nie slegs invorder nie. Daar moet dienste wees, daar moet waarde vir belastinggeld wat deur die staat bestee word, wees. Die uitbuiting van die staat deur kontrakteurs en ondernemings omdat hulle deur kaders van die regerende party besit word, moet stopgesit word.
Onnodige druk op die regering moet verwyder word. ‘n Voorbeeld is die Padongelukkefonds (Pof) waarmee weggedoen kan word. Maak derdeparty-versekering verpligtend vir motor-eienaars. Sodoende betaal net die eienaar eindelik vir derdeparty-eise, nie alle Suid-Afrikaners nie.
Beleidsekerheid is nodig om beleggings na Suid-Afrika te lok. Daar moet eens en vir altyd duidelikheid en sekerheid kom oor byvoorbeeld voorgeskrewe bates en gestop word met onverantwoordelike uitsprake wat beleggers afskrik.
Die privaatsektor is nie die vyand nie. Die regering se geykte retoriek van sondebokpolitiek om sy eie tekortkominge te verbloem, wat tot by die privaatsektor strek, is onaanvaarbaar. Die privaatsektor is die grootste werkskepper in die land, ‘n land wat deur ‘n ernstige werkloosheidskrisis in die gesig gestaar word.
Ons sit met ‘n departement van arbeid wie se mandaat juis na werkskepping ook uitgebrei is, maar wat nie oor die middele en wil beskik om dit te doen nie. Deur die privaatsektor met voorskriftelike arbeidswetgewing en ‘n stief houding te kortwiek, sal bloot die werkloosheidsprobleem en gevolglike sosio-ekonomiese probleme vererger.
Vrye ekonomiese sones met beperkte wetgewing en groot toegewings op belasting en heffings sal belegging lok en werk skep.
Dit maak nie sin om geld weg te neem van munisipale infrastruktuurtoekennings, waterinfrastruktuurtoekennings, onderwys, polisie en gesondheid, om dit aan ‘n mislukte lugredery te gee nie.
Hoeveel broodnodige belastingbetalersgeld gaan nog in hierdie swart gat van mislukte staatsbeheerde entiteite gestort word voordat die ANC-regering sy les leer?
Ideologie moenie bo die belang van die mense van Suid-Afrika geplaas word nie. Die mense van Suid-Afrika begin dit sien en gaan die ANC by die stembus straf.