Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Kwartaallikse verslag getuigskrif van ANC se onvermoë

Die Matlosana-plaaslike munisipaliteit se kwartaallikse verslag vir die tydperk April tot Junie 2017 is ‘n getuigskrif van ANC onvermoë, het Ronnie Horn, VF Plus-raadslid in die munisipaliteit wat in Klerksdorp gesetel is, gesê.

Die verslag staaf die stelling met finansiële resultate wat getuig van wanbestuur en deurspek is met teenstrydighede en misleidende feite. So is die werklike spandering deur die munisipaliteit eksponensieel meer as die begrote spandering, die werklike inkomste ver onder die begrote inkomste en is daar uitstaande diensteskuld van meer as R2.2 miljard.

“Belastingbetalers subsidieer indirek nie-betalers deur bykans dubbel tariewe te betaal, omdat die munisipaliteit geen erns maak met die invordering van hul uitstaande debiteure nie. Daar is uit die aard van die saak gevalle waar mense werklik nie munisipale dienste kan bekostig nie, maar dit wil voorkom of die munisipaliteit net eenvoudig nie hul uitstaande debiteure invorder nie.

“Voorts moet ‘n munisipale begroting realisties wees, inaggenome vorige termyne se tendense en prestasies, soos deur die Munisipale Finansiële Bestuurswet bepaal – wat hoegenaamd nie hier die geval is nie.

“Die VF Plus het nie die munisipaliteit se begroting gesteun nie omdat dit onrealisties was en die verslag is ‘n klinkklare bewys daarvan.

“Dit is duidelik dat die ANC nie wetgewing volg nie, aangesien die onrealistiese oorskatting van inkomste en onderskatting van uitgawes duidelik gebruik word om allerhande onderduimshede te verdoesel,” het Horn gesê.

 

Kontakbesonderhede: 079 409 8342

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.