Die verhoging van 8,61% vir munisipaliteite en 9,61% vir direkte gebruikers wat Nersa aan Eskom toegeken het, maak deel uit van ’n perfekte storm wat besig is om saam te pak oor die verbruikers en belastingbetalers van Suid-Afrika.
Munisipaliteite moet nou nog self besluit oor hul eie verhoging op die verhoogde prys aan Eskom en verbruikers kan hulle gereed maak om eersdaags sowat 17% meer vir krag te betaal.
Nersa moet ook hierdie munisipale verhogings goedkeur, maar dit sou in lyn wees met die 17,80% verhoging wat Nersa verlede jaar goedgekeur het.
Gegewe munisipaliteite se haglike finansiële posisies, spreek dit vanself dat die meeste sal probeer om die verhoging so groot as moontlik te maak.
Die verhoogde elektrisiteitstariewe gaan tot verdere verarming van inwoners lei wat meer wanbetalers tot gevolg gaan hê en dus munisipaliteite se sukkelende finansiële posisie verder gaan verswak. Plaaslike ekonomieë kan nie groei te midde van onbekostigbare en onbetroubare elektrisiteitsvoorsiening nie.
Die verhoging aan Eskom moet ook gesien word teen die agtergrond van reddingsboeie van miljarde wat die staat jaarliks aan die kragvoorsiener gee. In die 2020/21-boekjaar het dit altesame R56 miljard beloop.
Hierdie geld kom direk van die belastingbetaler en indien dit bereken word as deel van die jaarlikse tariefverhoging aan Eskom, sou die persentasie aansienlik meer beloop.
Dit, tesame met ander verhogings in belangrike verbruikersmiddele soos brandstof en voedsel laat Suid-Afrika volgens die marknavorser Trading Economics met ’n verwagte inflasiekoers van 4,45% vir vanjaar.
Die verwagte ekonomiese groeikoers is skaars 1% vir vanjaar en slegs 0.60% vir 2023. Die oorlog in Oekraïne kan hierdie projeksies boonop veel slegter laat lyk.
Soos by munisipaliteite moet die handvol getroue betalers van belasting en dienstegelde reeds ’n haas onmoontlike las dra terwyl ekonomiese onheilswolke om hul koppe saampak.
Hierdie storm is hoofsaaklik geskep deur onbevoegdheid en korrupsie op elke vlak van regering en by elke instansie waar die ANC betrokke is.
Wat Eskom aanbetref, sal daar dringende en ingrypende herstrukturering moet plaasvind. Net so dringend as wat ’n nuwe regering die land van ondergang moet red.