Die VF Plus het tydens die Dihlabeng-plaaslike munisipaliteit (Bethlehem, Clarens, Fouriesburg, Golden Gate Highlands National Park, Paul Roux, Rosendal) se begrotingsdebat teen die 2026/27-begroting gestem weens die voorgestelde 30% kragtariefverhoging.
Alhoewel Nersa, ’n gemiddelde riglyn van sowat 9% vir munisipale elektrisiteitstariewe vir die 2026/27-boekjaar goedgekeur het en Nersa steeds die voorgestelde verhoging moet oorweeg, blyk dit of die ANC doelbewus probeer om hierdie buitensporige tariefverhoging stilweg deur die begrotingsproses te stoot sonder dat inwoners die volle impak daarvan besef.
Met Suid-Afrika se inflasie wat tans op sowat 4% staan, is daar eenvoudig geen huishouding waarvan die inkomste jaarliks met 30% groei nie.
Hierdie voorgestelde verhoging is niks anders nie as ’n poging om historiese Eskom-skuld en finansiële verval op die skouers van inwoners te plaas.
Dihlabeng se Eskom-skuld beloop tans sowat R1,3 miljard.
Hoewel die munisipaliteit maandeliks sowat R25 miljoen aan Eskom betaal ingevolge ʼn betalingsooreenkoms met die kragvoorsiener en die nasionale tesourie, word die volle lopende rekening steeds nie vereffen nie.
Intussen lei die munisipaliteit reuse verliese weens swak invordering, onwettige aansluitings en finansiële wanbestuur.
Indien die inwoners van Dihlabeng werklike verbetering en goeie bestuur wil sien, is dit tyd om op 4 November vir die VF Plus te stem.
Dis ons tyd om ons dorpe, ons finansies en ons toekoms van die ANC terug te vat.


