Dit is jammer dat die kontroversie oor ‘n lied by die NWU gebruik word om Afrikaans en die voortbestaan van so ‘n oorwegend Afrikaanse kampus in die gedrang te bring. Van die 23 Suid-Afrikaanse universiteite is daar slegs twee wat tans nog as oorwegend Afrikaans beskryf kan word. Dit terwyl Afrikaanssprekendes se getalle in Suid-Afrika baie meer universiteite regverdig. In die verlede was daar sewe sulke universiteite.
Die foto’s wat gebruik word om die kontroversie te skep kom uit ’n greep van ’n video waarin wit en swart studente vir hul primaria ‘n groetlied sing wat saamgestel is uit verskeie liedjies. Die sogenaamde ‘saluut’ vorm ‘n halwe sekonde van die lied en al sy verskillende choreografiese bewegings. Dit is daarom moeilik om in te sien hoe die voorval vertolk kan word as ‘n opsweping tot rassisme en nasionale sosialisme by die universiteit.
Boonop het die universiteit, volgens die vise-kanselier dr. Eloff, die sensitiwiteit daarvan uit hul eie raakgesien en HK-lede en studenteleiers is reeds in Januarie vanjaar gewaarsku daarteen. Daarna is dit nie weer gebruik nie. Waarom daarom weke later ’n krisis van gemaak word, is onverklaarbaar en speel regstreeks in die hande van individue in die ANC wat graag van Afrikaans op alle kampusse ontslae wil raak. Die stappe waarmee die regering dreig is baie ernstig en kan die universiteit se voortbestaan op die huidige basis regstreeks raak.
“Daar is ‘n groot aanslag teen Afrikaans wat nie ontken kan word nie. Afrikaans kan nie sy hoop op oorlewing en groei plaas net op kultuurgeleenthede en kunsfeeste nie. Internasionale voorbeelde van tale wat tot niet gegaan het, bewys dat ’n taal nie sy hoë taal funksies moet verloor nie. Daarvoor het ons oorwegend Afrikaanse kampusse soos Potchefstroom nodig,” sê dr. Mulder.
Kontaknommers: 082 674 6670 / 083 419 5403