fbpx
Vryheidsfront Plus

Karoo Hoogland-plaaslike munisipaliteit verklaar ramptoestand ná weeklange kragonderbreking

Die Karoo Hoogland-plaaslike munisipaliteit (Frasersburg, Sutherland, Williston) het vandag ʼn ramptoestand verklaar nadat weeklange kragonderbrekings ernstige ontwrigting veroorsaak het en feitlik die hele gebied lamgelê het.

Die algehele kragonderbreking is veroorsaak toe sewe hoofmaskragpale in die omgewing van Laingsburg in ʼn storm omgewaai het. Dit kan ʼn geruime tyd neem om te herstel.

Die gebied wat geraak word strek van Prins Albert in die suide tot Fraserburg in die noorde; en Leeu Gamka in die ooste tot Laingsburg in die weste. Dit sluit ook Merweville in.

Hierdie sowat twintigduisend vierkante kilometer is van die mees yl bevolkte dele in die land, maar die ekonomie is net so afhanklik van elektrisiteit as enige ander deel van die land. Trouens, omdat dorpe so afgeleë is, kan ʼn krisis moeiliker die hoof gebied word.

Die ekonomie is grootliks kontantloos, met selfs maatskaplike toelae wat elektronies oorbetaal word. Betalings geskied deur kontant by kitsbanke te trek, of deur ʼn kaart te gebruik om by betaalpunte te betaal. Met ʼn langdurige kragonderbreking werk dit nie meer nie. Die situasie in Fraserburg raak haglik.

Diegene wat wel ʼn kragopwekker het, het selde brandstof vir langer as een dag se verwagte beurtkrag. Slegs diegene met kontant kan dus hul ys- en vrieskaste aanhou. Watersuiwering (om te drink en vir riolering) staak en drinkwater kan nie na reservoirs gepomp word nie.

Selfs die munisipaliteit was swak voorbereid op so ʼn krisis. Eers na etlike dae is toepaslike toerusting en operateurs ingebring om water aan die gemeenskap te voorsien. Drinkwater is nou vir almal beskikbaar, hoewel dit steeds ʼn probleem is om waswater te kry.

Bevrore produkte het eers ontvries, maar met temperature hoog in die 30 grade Celsius kan dit ook nie vars bly nie. Ondernemings verkoop dit tans teen halfprys aan diegene met kontant, maar sommige inwoners is bang dat bederf reeds ingetree het.

Selfs brandhout, wat nou die enigste beskikbare energiebron is, is nie volop in die Karoo nie.

Hierdie is ʼn ramp wat vererger is deur noodstelsels, -toerusting en algemene onderhoud wat nie daarvoor ingerig is nie. Soos altyd is die lyding wat arm mense beleef die ergste, omdat hulle min reserwes het.

Geen hulp het tot dusver van die provinsiale of nasionale regering na Fraserburg en Sutherland gekom nie.

Die Karoo Hoogland-munisipale raad het Vrydag vergader en Fraserburg en Sutherland tot rampgebiede verklaar. Dit is deur die Namakwadistrik en Noord-Kaap-provinsie bevestig.

Hierdie verklaring ontsluit noodfondse van nasionale regering wat die situasie behoort te verlig. Tot dusver het die plaaslike munisipaliteit bykans ‘n miljoen rand daaraan bestee wat vir so ‘n klein munisipaliteit onbekostigbaar is.

Terwyl die VF Plus voedsel en water in Fraserburg versprei, gaan samewerkende regering juis daaroor dat alle sfere van regering aan noodverligting moet deelneem.

DEEL DIT:

jongste artikels

Mediaverklarings
Mark Surgeon

Tshwane-metro minag Strukturewet

Die Tshwane-metroraad het gister tydens ʼn raadsvergadering die Munisipale Strukturewet geminag deur ʼn verslag wat handel oor ʼn ANC-raadslid wat ses agtereenvolgende raadsvergaderings nie bygewoon

LEES MEER
Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.