Ons land se jeug is deel van ‘n geskiedkundige demografiese dividend en kan ‘n geweldige groot bate vir die land wees, maar kan eweneens ‘n groot faktor wees in die destabilisering van state, insluitende Suid-Afrika, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor sosiale ontwikkeling.
Adv. Alberts sê Europa en Amerika, en nou ook China tot ‘n mate, kon hul demografiese dividend effektief aanwend vir die skep van enorme ekonomiese groei en ontwikkeling tot voordeel van hul burgers.
Hy sê in Suid-Afrika se geval vertel statistiek in hierdie opsig ‘n treurige verhaal. Altesame 50% van alle persone onder 25 wat geskik is vir die arbeidsmark, is werkloos. Dit is 30% van alle werkloses in die land.
Van alle skoolverlaters het 60% nie matriek nie. Dit duur gemiddeld 806 dae vir iemand in die ouderdomsgroep om ‘’n werk te kry en hulle ding mee met 6.5 miljoen ander jeugdiges in die arbeidsmark.
“Dit kan in die afsienbare toekoms lei tot onrus weens frustrasie onder die jeug. Die antwoord is eenvoudig en dit is om die ekonomie te laat groei sodat werk geskep word. Onderliggend tot die probleem is egter die ANC-regering se beleid wat na 20 jaar die ekonomie en die arbeidsmark doodsmoor.
“Die regering se beleid skiet vêr tekort ten opsigte van basiese onderwys. Dit is so swak dat diegene wat uit daardie stelsel kom, veral arm swart jongmense, beskou word as onaanstelbaar, behalwe vir ongeskoolde arbeid.
“Dit is ‘n nasionale skande en mens kan net wonder of die regering opsetlik die massas ongeskool wil hou ten einde hulle makliker te beheer. Die eerste stap in die regstel hiervan is die instel van moedertaal-onderrig, meer klem op wiskunde en wetenskap en die daarstel van hoër slaagstandaarde.
“Ten tweede het regstellende aksie (RA) en SEB bloot instrumente geraak om ANC-kaders te bevoordeel ten koste van ekonomiese groei. Die instrumente herverdeel bloot bates en skep nie nuwe welvaart nie.
“Die korrekte hantering van die beleidsprobleme sal ekonomiese ontwikkeling moontlik maak deur middel van die jeug as demografiese dividend. Die vraag is egter of die regering die korrekte beleidsopsies gaan volg: dié wat bewese is en groei verseker het in ‘n land soos Suid-Korea of dié wat lei na hel op aarde soos in Noord-Korea,” sê adv. Alberts.
Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403