Politieke korrektheid of argument teen argument?
Volgens Die Burger (24/6/2014) “dreig die EFF se LP’s die VF+ s’n”. Dit was nie soseer op die VF+ gemik nie maar op alle wittes wat almal volgens die EFF “grond gesteel het.”
Behalwe dat die EFF ons probeer uitlok ten einde ’n rassevoorval te veroorsaak, bestaan hul toesprake hoofsaaklik uit kru rassisme teen wittes. Rassisme wat op vals propaganda-mites en verdraaide geskiedenis gegrond is.
Die vraag is: Ignoreer jy dit ter wille van “politieke korrektheid” of stel jy op beskaafde wyse argument teen argument ten einde te verhinder dat regeringsbesluite later op hierdie verkeerde feite geneem word?
Die dag as jy in die parlement nie meer argument teen argument kan stel nie, dan mors jy tyd om daar te wees.
Malema se aanval was ook op Afrikaans as “koloniale” taal wat op almal “afgedruk word”. Hierdie is debatte wat ons in 1994 in die parlement afgehandel het.
In 1994 was daar slegs Afrikaans en Engels in die parlement. In my toespraak het ek daarop gewys dat die VF Plus die party was wat na 1994 voorgestel het dat daar ’n vertaaldiens in al elf tale in die Parlement moet wees omdat ons uit ons eie geskiedenis weet dat jou waardigheid herstel word as jou taal erkenning kry.
Na verskeie jare se besware het ons daarin geslaag. Vandag kan jy in enige van die elf amptelike tale praat. Ek het ook daarop gewys dat die meerderheid Afrikaanssprekendes nie wit is nie en dat Malema se aanval ook op hulle is.
Van die 400 parlementslede wat in 1994 in die parlement was, is ons slegs twaalf wat oor is in die huidige parlement. Nuwe bloed is altyd goed maar as die omset so hoog is verloor jy kontinuiteit en moet die ou debatte soos hierbo herhaal word.