‘n Ondersoek moet gedoen word na die huur vir kragopwekkers teen ‘n koste van R11 miljoen oor ‘n tydperk van ses maande in die JB Marks-plaaslike munisipaliteit.
Die VF Plus het gister tydens ‘n raadsvergadering van die munisipaliteit, wat Potchefstroom en Ventersdorp insluit, daarop aangedring dat so ‘n ondersoek so gou moontlik gedoen word.
Die opwekkers is gehuur nadat kragprobleme veroorsaak het dat water nie na sommige reservoirs in Potchefstroom gepomp kon word nie.
In stede daarvan om die nodige drie opwekkers teen heersende markpryse vir ‘n bedrag van sowat R3,2 miljoen aan te koop, is opwekkers teen ‘n koste van net meer as R1,8 miljoen per maand gehuur.
Die waarnemende munisipale bestuurder het in die raad aangedui dat die huurkontrak ingevolg artikel 36 van die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur (MFMA) as ‘n noodmaatreël aangegaan is.
Volgens hom is dit daarom nie ‘n onreëlmatige besteding nie. Hy kon egter nie aandui waarom die munisipaliteit besluit het om R11 miljoen te verspil op die huur van toerusting terwyl dit teen R3,2 miljoen aangekoop kon word nie.
Sulke wanbesteding van belastinggeld dui eerstens op moontlike korrupsie, of ten beste op erge onbevoegdheid in die bestuur van hierdie ANC-beheerde munisipaliteit.
Die inwoners van Potchefstroom en Ventersdorp ly reeds lank onder die wanbestuur en korrupsie van opeenvolgende ANC-beheerde munisipale administrasies.
Die VF Plus sal voortgaan om wanpraktyke in JB Marks aan die kaak te stel.
Potchefstroom en Ventersdorp se inwoners verdien beter as die ANC.