Die VF Plus beskou die stadsrede van die uitvoerende burgemeester van die Ekurhuleni-metroraad, Sivuyile Ngodwana, as net nog leë beloftes.
Die burgemeester se toespraak het ‘n gevoel van déjà vu geskep aangesien die toespraak basies ‘n herhaling was van die 2016-stadsrede van die destydse ANC-burgemeester.
Dis seker te verwagte omdat die nuwe ANC/EFF-regering eintlik net die onbeholpe ANC in ‘n ander gewaad is.
Die burgemeester het in sy toespraak aangedui dat die fondse van die metro baie verantwoordelik hanteer sal word en dat vrugtelose en vermorsing van uitgawes ten alle koste voorkom sal word.
Ironies genoeg en ten spyte van dié onderneming, het die nuwe regering besluit om die stadsrede oor ‘n tydperk van twee dae te hou wat onnodige kostes veroorsaak het.
Al die politieke partye in die metro sou op dieselfde dag van die stadsrede sinvol kon reageer daarop.
Die burgemeester het in sy toespraak melding gemaak van die konsep van die ‘mense se regering’.
Sy verwysing hierna val ook ironies op aangesien dit baie duidelik is dat dienslewering net selektief in sekere gemeenskappe en gebiede toegepas word.
Demokrasie is nie ‘n toeskouer-sport nie, maar is ‘n stelsel waaraan almal moet deelneem en almal moet ook die voordeel van dienslewering ervaar.
Verder het die burgemeester krediet geneem vir planne wat die vorige koalisieregering, waarvan die VF Plus deel was, geskep het.
Die vorige veelparty-koalisieregering het byvoorbeeld sinvolle planne opgestel vir inkomste-verbetering, goeie diensleweringskoördinasie, gesondheids- en ander veldtogte, infrastruktuur-opgradering en nog meer wat die ANC/EFF-koalisie nou vir homself wil opeis.
‘n Goeie aanduiding dat hierdie sogenaamde nuwe regering ook nie opnuut dienslewering gaan verbeter nie is die feit dat die beloftes om nege reservoirs te herstel en te herbou binne 100 dae onrealisties is en waarvoor daar verder ook geen voorsiening in die begroting gemaak is nie.
Die VF Plus vind dit ook ironies dat dié regering ‘n sentrale teen-korrupsie oorsig-liggaam wil skep met kaders wat self korrupsie bevorder.
‘n Mens kan net jou kop skud vir die gedagte om ‘n universiteit te skep terwyl die regering nie eens basiese dienslewering kan toepas nie.
Dit sê natuurlik ook baie van die ANC se gebrekkige regeringsvermoë dat die projek al van 2016 af kom en steeds geen vordering maak nie.
Die VF Plus verwag nie veel van die nuwe ANC/EFF-regering nie, veral omdat daar reeds tekens van onenigheid is. Die lede van die burgemeesterskomitee was nie eens saam ingesweer soos die gebruik is nie.
Die ANC en EFF moet dus nie te gemaklik raak in die regeringstoel nie.