Pasiënte wat die afgelope weke by die Karenpark-kliniek in Akasia opgedaag het, is weggewys omdat daar geen dokter aan diens was om hulle te behandel nie.
Dié kliniek spesialiseer in vroue- en kindergesondheidsorg.
Die VF Plus het die Gautengse gesondheidsdepartement weke gelede al gewaarsku dat dit gaan gebeur nadat die departement dokters se kontrakte summier beëindig het op 31 Maart.
Al die dokters was deel van die nasionale gesondheidsversekering (NGV) se loodsprogram.
Duisende pasiënte wat van die 24 klinieke in die Tshwane-metro gebruik maak, word deur die besluit geraak.
Baie van die pasiënte is afhanklik van die klinieke vir die behandeling van MIV/Vigs, tuberkulose, seksueel-oordraagbare siektes, voorgeboortesorg en chroniese medikasie.
Inwoners wat die klinieke besoek, beskik nie oor die geld om van private gesondheidsorg gebruik te maak nie. Noodsaaklike gesondheidsorg word hulle nou ontneem.
Die VF Plus se LPW in die Gautengse wetgewer, adv. Anton Alberts, het reeds vrae oor die situasie gerig aan die LUR vir gesondheid, Nomantu Nkomo-Ralehoko.
Die party eis antwoorde van die LUR en hoe daar toegesien gaan word dat pasiënte die nodige behandeling ontvang.
Indien die situasie nie dringend aangespreek word nie, kan dit in ʼn gesondheidsramp ontaard.