Herbesin oor die geestesgesondheid van vroue in die werkplek. Dit was die pleidooi van die VF Plus in Gauteng tydens Internasionale Vrouedag.
Vroue met moontlike geestesgesondheidsprobleme swyg dikwels hieroor aangesien hulle glo daar kleef ‘n stigma daaraan en word sodoende ontmoedig om hulp te soek.
Statistiek wys vroue staan 'n groter risiko as mans om een of meer vorm van geestesgesondheidsprobleem te ontwikkel.
Omstandighede wat daartoe aanleiding gee, is waarskynlik persoonlike omstandighede, werksdruk, werksomstandighede en oorerflikheid. Die mees algemene siektetoestande is depressie en bipolêre versteuring.
Geestesgesondheid het ‘n groot inpak op produktiwiteit in die werkplek en daarom is dit belangrik dat probleme vroegtydig aangespreek word alvorens werksure verlore gaan.
Dit is ironies dat werkgewers omvattende ondersteunings-beleidsdokumente vir ‘gesonde’ werkers saamstel terwyl daar weinig tot geen ondersteuningsbasis vir personeel met geestesgesondheidsprobleme is nie.
In Suid-Afrika spruit die grootste uitdagings voort rondom geestesgesondheidskwessies weens die impak van sosio-ekonomiese geslagsnalatenskap, ras en sosiale ongelykhede.
Statistiek deur die Wêreld-Geestesgesondheidsfederasie dui daarop dat 36 werksdae na elke episode of voorval van 'n siekte-aandoening verlore gaan en tien present werknemers is op een of ander stadium weens depressie afwesig.
Die regering bestee vyf present van sy nasionale gesondheidsbegroting aan die behandeling van geestesgesondheidspasiënte terwyl dit in werklikheid die land se ekonomie tot ses keer meer kos.
Die verlies aan inkomste weens depressie onder werknemers en werkgewers word geraam op sowat R55 000 per volwassene per jaar wat byna R40 miljard (2.2%) van die land se bruto binnelandse inkomste is.
Die stigma rondom enige vorm van geestesgesondheid in Suid-Afrika verhinder in 'n groot mate dat die siekte betyds en suksesvol behandel kan word.
Vroue is die grootste slagoffers hiervan omdat hulle meer geneig is om na buitestaanders se mening te luister.
Die VF Plus is besorg daaroor dat daar selfs in provinsiale raadsale neerhalend na vroue verwys word.
In 'n onlangse geval in die Gautengse provinsiale wetgewer het 'n senior politikus na 'n vrou as 'n 'domkop' verwys. Hy is nie deur die voorsitter aangespreek nie en daarom wil die party dit benadruk dat elke persoon wat hierdie vorm van geestelike- en emosionele mishandeling duld, aandadig is aan die effek wat dit op ‘n individu nalaat.
Indien ons die viering van Internasionale Vrouedag tot sy reg wil laat kom, kan ons geen vorm van emosionele mishandeling of ontkenning van geestesgesondheidstoestande misken nie.