fbpx
Vryheidsfront Plus

Meer vrae as antwoorde oor Matjhabeng se 139 Eskom-plase

Die Matjhabeng-plaaslike munisipaliteit (Allanridge, Hennenman, Odendaalsrus, Ventersburg, Virginia, Welkom) se besluit om verlede jaar 139 plase as sekuriteit te bied vir skuld aan Eskom, laat meer vrae as antwoorde.

Die burgemeester van Matjhabeng, Nkosenjani Speelman, kon Dinsdagaand nie antwoorde aan die portefeuljekomitee vir samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta) bied oor wat tans met die plase gebeur nie.

Die plase is as sekuriteit gebied nadat Eskom beslag gelê het op Matjhabeng se bankrekening. Die waarde van die plase is na raming sowat R5 miljard.

Speelman was ontwykend oor die plase en kon nie aandui of die plase tot voordeel van inwoners gebruik word nie.

Die direkteur-generaal van die Vrystaatse departement van Cogta, Mokete Duma, het aangedui dat die plase slegs as sekuriteit gebied is vir die skuld van R371 miljoen. Die munisipaliteit skuld Eskom meer as R3 miljard en ‘n dispuut in dié verband word tans in die howe aangehoor.

Dit maak nie sin dat die munisipaliteit bates ter waarde van R5 miljard as sekuriteit bied vir skuld van R371 miljoen nie.

Selfs die minister van landbou, landelike ontwikkeling en grondhervorming, Thoko Didiza, was Dinsdag tydens ‘n vraesessie in die nasionale raad van provinsies verbaas hieroor toe die VF Plus haar oor Matjhabeng se plase uitgevra het.

Die munisipaliteit is effektiewelik die grootste eienaar van grond in die distrik. Die VF Plus is van mening dat die plase eerder verkoop kan word sodat die munisipaliteit sodoende sy skuld kan afbetaal.

Die VF Plus het in parlementêre vrae aan Didiza en die minister van samewerkende regering en tradisionele sake, Nkosazana Dlamini-Zuma, geëis dat duidelikheid gegee word oor die huidige stand van sake met die plase.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.