Die VF Plus in die Ramotshere Moiloa-plaaslike munisipaliteit (Groot Marico, Zeerust) het ‘n klag ingedien by die Groen Skerpioene teen die oorkoepelende Ngaka Modiri-distriksmunisipaliteit weens die rioolbesoedeling van die Maricorivier. Die besoedeling word veroorsaak deur die nalatigheid van dié munisipaliteit.
Die party sal ook ‘n klag hieroor by die menseregtekommissie (MRK) indien.
Die rioolwerke by Groot Marico is verlate en word deur natuurlike plantegroei ingeneem terwyl riool deur die riooldam se wal via ‘n kanaal in die rivier vloei.
Ten spyte van vele beloftes van die distriksmunisipaliteit aan die VF Plus, wat om dringende ingryping gevra het, vloei rou riool steeds vanaf die rioolwerke in die rivier.
Die munisipaliteit het op 26 Februarie nogmaals onderneem om die kwessie onmiddellik te prioritiseer. Tot op hede is egter geen poging aangewend om die rioolwerke te herstel nie.
Hierdie verslegtende situasie het ‘n groot negatiewe impak op die plaaslike toerisme-ekonomie, landbou-aktiwiteite, inheemse fauna en flora en hou ook gesondheidsgevare vir inwoners en besoekers aan Groot Marico in.
Boere in die omgewing is ook aangewese op die rivierwater om gewasse te besproei.
Die rivier voed die Riekertsdam in die omgewing vanwaar die hele Groot Marico se bosveld-besproeiingskema van water voorsien word. Dringende ingryping is nou nodig om hierdie kwesbare gemeenskappe se gesondheid en inkomstebronne te beskerm.
Die VF Plus dring met die klag daarop aan dat die verantwoordelike amptenare van die ANC-beheerde distriksmunisipaliteit tot verantwoording geroep word.
Dit is skandalig dat ANC-beheerde munisipaliteite ooglopend toelaat dat jare se bouwerk en ontwikkeling ongedaan gemaak word, kosbare natuurlike hulpbronne besoedel word en gemeenskappe se gesondheid op die spel geplaas word deur blatante laksheid en wanbestuur.
Kiesers moet kennis neem van die stand van dienslewering en die verval van infrastruktuur onder ANC-beheerde munisipaliteite en hul kruisies in die komende plaaslike regeringsverkiesing aanwend om die agteruitgang van plaaslike regering te stuit.
Navrae: 073 200 3309