Die Noord-Gautengse hooggeregshof se uitspraak van 17 Desember 2025, waarin die Tshwane-metro se poging om privaat brandweerdienste onwettig te verklaar van die hand gewys is, is ’n klinkklare oorwinning vir gemeenskapsveiligheid en gesonde verstand.
Hierdie mislukte regstryd is die direkte gevolg van die ANC/EFF/ActionSA-koalisie se onbevoegde bestuur.
Onder leiding van die VF Plus het die metro reeds lank daarop gewys dat daar geen wetlike verbod bestaan op privaat entiteite of vrywillige verenigings wat brandweerdienste lewer om lewens en eiendom te beskerm nie.
Die hof het dié standpunt bevestig en beslis dat die Wet op Brandweerdienste nie privaat dienste verbied nie.
Die werklikheid is dat munisipale brandweerdienste in Tshwane en regoor Suid-Afrika in baie gevalle ontoereikend of selfs heeltemal afwesig is.
Hierdie wanfunksionaliteit stel inwoners, hul eiendom en kritieke infrastruktuur in gevaar.
Dit is moreel onverdedigbaar dat ’n koalisie wat self nie sy grondwetlike mandaat kan nakom nie, terselfdertyd probeer om privaat dienste te verbied.
Die VF Plus neem kennis dat die nasionale departement van samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta) tans regulasies vir privaat brandweerdienste voorberei.
Die VF Plus het reeds insette gelewer en sal aanhou druk uitoefen om die proses te bespoedig.
In die tussentyd kan memorandums van verstandhouding tussen munisipaliteite en privaat operateurs verseker dat dienslewering verantwoordelik en deursigtig geskied, sodat inwoners nie blootgestel word aan onbevoegde operateurs sonder toesig en aanspreeklikheid nie.
Die hof het verder uitgewys dat Tshwane se regspan sonder mandaat aangevoer het dat nasionale en provinsiale Cogta hul saak steun, terwyl dit in werklikheid nie die geval was nie.
Hierdie onbeholpe optrede het bygedra tot die mislukking van die aansoek.
In ’n metro wat reeds onder ernstige finansiële druk verkeer, het die administrasie boonop toegelaat dat massiewe regskoste, insluitend bestraffende kostebevele teen twee senior advokate, toegestaan word.
Dit is nóg ’n deurslaggewende mislukking van die ANC/EFF/ActionSA-koalisie.
Die party eis dat hierdie vermorste uitgawes nie ongesiens verbygaan nie en dat daar rekenskap gegee word vir die swak besluitneming wat tot die regstryd gelei het.
Die VF Plus bly verbind daartoe dat privaat en publieke dienste hande moet vat om die veiligheid van Tshwane se inwoners te verseker.


