‘n Antwoord van die minister van openbare ondernemings, mnr. Pravin Gordhan, dui daarop dat die hidroëlektriese kragsentrales van die Gariep- en Vanderkloofdamme steeds ‘n waardevolle bydrae tot die land se kragvoorsiening lewer.
Die volume daarvan is nie baie hoog nie, maar die koste is besonder laag, vanuit ‘n finansiële sowel as ekologiese oogpunt.
Vanaf 1 Januarie 2021 tot 20 November 2022 het die twee damme onderskeidelik 2 230- en 1 928 GWh elektrisiteit opgewek.
Die twee damme is die hart van die Oranjerivierskema wat in die 1960’s geloods is. Dié rivier is die grootste rivier in Suid-Afrika, maar die vloei daarvan is besonder wisselvallig. Die damme is gebou om vloedskade te beperk en die groot volume water wat tevore weggespoel het, vir landbou- en stedelike doeleindes beskikbaar te stel.
Sonder die Oranje-Visriviertonnel sou die uitwerking van die huidige Oos-Kaapse droogte veel skadeliker gewees het.
Opwekking van elektrisiteit is ‘n byvoordeel van hierdie damme. Turbines met die vermoë om onderskeidelik 340- en 240 MW op te wek, is in die Gariep- en Vanderkloofdam geïnstalleer.
Saam maak dit slegs 0,6 van een fase van beurtkrag uit en is dus nie ‘n alternatief vir die land se groot steenkoolkragsentrales nie.
Verder word die aanwending daarvan beperk deur die hoeveelheid water wat dit vereis. Terwyl die gemiddelde vloei van die rivier 365 kubieke meter per sekonde is, vereis die turbines 800 kubieke meter per sekonde om ten volle te werk.
Waarmee hidroaangedrewe turbines egter vergelyk moet word, is die dieselaangedrewe oopsiklus gasturbines wat tydens piekverbruik aangeskakel word. In daardie vergelyking is dit besonder kostedoeltreffend.
Verder stel steenkool en diesel sowat ‘n ton koolstof vry vir elke megawatt/uur elektrisiteit wat opgewek word, terwyl die 4 158 gigaWatt/uur wat hier opgewek is, ‘n weglaatbare koolstofvoetspoor tydens opwekking het.
Hierdie damme het dus in die betrokke tydperk sowat 4 miljoen ton koolstof gespaar
Die VF Plus verwelkom die feit dat hierdie kragsentrales, anders as ander binne die Eskom-stelsel, steeds goed genoeg onderhou word om produksie vol te hou.
Tans, terwyl die damme vir etlike weke aaneen oorloop, verseker dit betroubare kragvoorsiening, al kan dit beurtkrag nie uitskakel nie.
Die VF Plus sal graag sien dat ‘n uitvoerbaarheidstudie gedoen word om dit tot ‘n pompbergingstelsel te verhef.
Dit kan gedoen word deur die water wat tydens spitstye deur die turbines gaan, onder die damwal op te vang en bedags met sonkragaangedrewe pompe terug in die dam te plaas.
‘n Lewensvatbaarheidstudie sal aandui hoeveel dit sal kos en hoe lank dit sal neem om die koste te verhaal.


