Die uitvoerende burgemeester van die Govan Mbeki-plaaslike munisipaliteit (Bethal, Charl Cilliers, Embalenhle, Evander, Kinross, Leandra, Secunda, Trichardt), Nhlakanipho Zuma, het in sy munisipale rede ʼn onrealistiese prentjie probeer skets van oënskynlike vooruitgang en groot prestasies in dié munisipaliteit.
Hierdie is ʼn wanvoorstelling, aangesien die harde werklikheid op grondvlak wys dat duisende inwoners daagliks die vernietigende gevolge van jare se wanbestuur, finansiële verval en gebrekkige dienslewering ervaar.
Die munisipaliteit sit vas in ’n finansiële moeras met Eskom-skuld van sowat R6,7 miljard en Rand Water-skuld van nagenoeg R888,9 miljoen.
Daarby kom infrastruktuur wat agteruitgaan, riool wat strate oorstroom, waterkrisisse, personeeltekorte en ’n onbefondsde begroting. Dit is duidelik nie die suksesverhaal wat die burgemeester voorhou nie.
Die VF Plus is veral bekommerd oor die burgemeester se erkenning dat dienslewering in die verlede tot stilstand gekom het bloot omdat werknemers versuim het om hul werk te doen. Dit is onaanvaarbaar dat gemeenskappe letterlik gyselaar gehou word weens ’n kultuur van swak werksetiek, ’n gebrek aan aanspreeklikheid en onvoldoende bestuur.
Belastingbetalers wat getrou hul tariewe betaal, verdien nie leë beloftes nie, maar sigbare resultate: skoon strate, betroubare krag- en watertoevoer en ’n plaaslike regering wat oplossings bo verskonings kies.
Die VF Plus sal die raad versoek om ’n volledige diensleweringsoudit en aanspreeklikheidsoorsig te doen, en dring aan op onmiddellike dissiplinêre optrede waar amptenare hul pligte versuim.
Die VF Plus bly die stem van inwoners wat moeg is vir verskonings en gereed is vir aanspreeklikheid.
Op 4 November het inwoners die geleentheid om vir die VF Plus te stem vir ’n plaaslike regering wat eerlikheid, aanspreeklikheid en werklike dienslewering eerste stel.
’n Stem vir die VF Plus is ’n stem vir skoon strate, betroubare dienste en ’n munisipaliteit wat sy mense dien.


