Die VF Plus is bekommerd oor die goedkeuring wat die departement van minerale bronne en energie gegee het aan ’n Amerikaanse maatskappy, RhinoOil and Gas, vir die eksplorasie van aardgas, olie en helium in die Oos-Vrystaat en KwaZulu/Natal in die land.
Die VF Plus het met die aanvang van die aansoek om eksplorasie as geïnteresseerde en geaffekteerde party namens inwoners in die gebied geregistreer en beswaar aangeteken teen die aansoek. Die party het ook teen die goedkeuring van die aansoek, appèl aangeteken.
Dit is onaanvaarbaar dat die regering bereid is om die bevolking en boere se waterbronne in gevaar te stel, sonder om die risiko's deeglik in ag te neem.
Die VF Plus is gekant teen die voorgenome eksplorasie-aktiwiteite wat onafwendbaar tot hidrobreking in die gebied sal lei, veral in ag genome dit in die direkte boloop van riviere is wat onder meer die Vaaldam van water voorsien. Die Vaaldam voorsien feitlik die hele Gauteng en miljoene mens en dier van drinkwater.
In Suid-Afrika, met sy skaars waterbronne en ‘n regering wat in die proses oënskynlik geld bo bewaring stel, kan dit rampspoedige gevolge soos die besoedeling van grondwater inhou.
Internasionale navorsing het reeds telkemale bewys dat sekere metodes van ontginning waterbronne tot so ‘n mate besoedel dat dit nie vir mens- of dierlike gebruik geskik is nie.