Die minister van gesondheid, dr. Aaron Motsoaledi, se besoek aan Kimberley het gebreke in die provinsiale gesondheidstelsel beklemtoon wat reeds deur die ouditeur-generaal (OG) en die gesondheidsombud uitgewys is.
Dit wys dat die provinsiale LUR vir gesondheid, mnr. Maruping Lekwene, nou summier uit sy pos verwyder moet word.
Die ombudsman en OG se verslae laat geen twyfel nie dat daar ’n kultuur van wanbestuur, strafloosheid en finansiële roekeloosheid in die departement heers.
Elke dag wat Lekwene langer in sy pos aanbly, kos mense in die Noord-Kaap hul gesondheid en in sommige gevalle hul lewe.
Die mense van die Noord-Kaap verdien ’n gesondheidstelsel wat funksioneer, wat lewens red en belastingbetalers se geld verantwoordelik bestuur.
Politieke beskerming vir onbevoegdheid en korrupsie moet eindig. Die VF Plus sal aanhou om druk uit te oefen totdat werklike verantwoordbaarheid en verbeterde dienslewering ’n werklikheid is.
Die gesondheidsombud se verslag lê ernstige tekortkominge, wanbestuur en ’n kultuur van strafloosheid bloot.
Dit word verder bekragtig deur die jongste verslag van die OG wat ’n tendens van finansiële wanbestuur, onreëlmatige uitgawes en die versuim om basiese wetgewing na te kom, uitwys.
Terwyl die VF Plus die LUR se kop weens jare van waarskuwings en negatiewe verslae eis, dring die party ook aan op dissiplinêre en selfs strafregtelike stappe teen verantwoordelike amptenare.
Diegene wat by wanpraktyke en finansiële wanbestuur betrokke is, kan nie skotvry daarvan afkom nie.
Noodplanne om tekorte aan personeel en toerustings in distrikshospitale en klinieke te verlig, is dringend noodsaaklik. Verder moet onafhanklike monitering en verslagdoening verseker dat beide die ombudsman en OG se aanbevelings volledig uitgevoer word.


