Die pad tussen Kuruman en die myne by Hotazel en Black Rock in die Noord-Kaap word die afgelope maande herhaaldelik deur betogers versper. Dit word gedoen deur ertsvragmotors te kaap en dwars oor die pad te trek, wat dit ondeurdringbaar vir voertuie maak. Sondagnag en Maandagoggend is so 'n betoging voorkom deur polisielede van so ver as Upington sowel as weermaglede te ontplooi. Daar is ook met die myne ooreengekom om ertsvragmotors tussen 04:00 en 07:00 van paaie te onttrek.
Die rede vir die herhaalde optrede is dat gemeenskapslede daarop aandring dat die myne lede van die plaaslike gemeenskap in diens moet neem. Antwoorde op die VF Plus se navrae dui egter daarop dat myne sover moontlik wel lede van die plaaslike gemeenskappe in diens neem. Slegs gespesialiseerde werk, byvoorbeeld die sink van 'n nuwe skag wat minder gereeld in die omgewing gedoen word, word aan diensverskaffers buite die omgewing uitgekontrakteer.
Die werklikheid is dat werkloosheid in hierdie omgewing, soos elders in Suid-Afrika, 'n akute probleem is. Die ekonomiese ineenstorting as gevolg van die nasionale inperking, vererger dit tot vlakke wat die samelewing destabiliseer. Indien die grondliggende probleme wat ekonomiese groei aan bande lê nie hanteer word nie, sal hierdie soort onrus al wyer versprei en meer dikwels voorkom.
Soos die VF Plus herhaaldelik gesê het, is dit nou die tyd om wetgewing wat regstellende aksie en swart ekonomiese bemagtiging afdwing, te kanselleer. Nie omdat die party teen die bemagtiging van swart mense is nie, maar omdat daar reeds oortuigend aangedui is dat hierdie beleidstukke persone wat reeds goed geplaas is verder verryk, liewer as om arm mense op te hef.
Navrae: 074 166 5540