Die VF Plus in Gauteng het ‘n dringende beroep op gemeenskappe in die provinsie gedoen om hulself daadwerklik te begin mobiliseer teen misdadigers en misdade.
Hierdie oproep volg nadat ‘n vlaag van moorde en aanvalle die afgelope weke in die land plaasgevind het. In die jongste voorval is ‘n agtjarige outistiese seun in sy huis in Springs, vyf keer met ‘n mes gesteek nadat hy en sy ma deur rowers oorrompel is. Die seun sukkel om te praat, dra doek en gebruik ‘n rolstoel. Dus ‘n weerlose sagte teiken.
Die VF Plus se LPW in Gauteng, mnr. Philip van Staden, het in reaksie op die voorval gesê wetsgehoorsame burgers sal vinnig moet besef dat, indien hulle nie na hul eie veiligheid omsien nie, daar nog veel meer slagoffers van sinnelose geweld en moord gaan wees.
Hy sê die Grondwet bepaal dat elke persoon die reg op veiligheid het en die beskerming van die polisie moet geniet. Die polisie het egter nie meer vermoë om dit te doen nie.
“Gemeenskappe sal daarom vinnig moet begin mobiliseer. Die dae dat ons nie meer omgegee het oor die welsyn van ons buurman en sy gesin nie, is verby. Ons moet paraat raak en self polisieman in ons eie omgewing speel. Die staat kan ons nie meer beveilig nie.
“Gemeenskappe sal dringend plaaslike polisiëringsforums of privaat buurtwagte aan die gang moet kry wat beman word deur lede van die gemeenskap self. Gesinne moet selfverdediging-klasse begin neem, weet wat in jou omgewing aangaan, jou huis beveilig en seker maak dat daar nie merkers voor jou eiendom geplaas word nie.
“Die VF Plus is van mening dat indien gemeenskappe in groot getalle daadwerklik teen misdadigers en misdaad begin optree, die regering gedwing sal word om dit na te volg.
“Ons as gemeenskappe het twee keuses: Of ons begin weer na mekaar omsien, óf ons gaan nog ‘n duurder prys met ons lewens betaal as wat ons reeds betaal het. Aanvalle en moorde gebeur nie net meer in landelike gebiede nie, maar raak nou ‘n alledaagse tendens in die stede.
“Die gevaar bestaan dat gemeenskappe heeltemal oorgeneem kan word deur misdadigers as daar nie nou dringend opgetree word nie. Ons moet dink aan die toekoms van ons kinders.
“Die VF Plus bedank alle lede van die gemeenskappe wat reeds deel is van beveiligingsnetwerke en daardeur ‘n positiewe voorbeeld vir die res van die gemeenskap stel,” sê Van Staden.
Tel: 084 015 4722 / 060 556 4347
Philip@vf.co.za / PvanStaden@gpl.gov.za