Daar kan nooit sprake van vryheid wees onder die ANC-regering nie. Daarom is dit allerbelangrik om in aanstaande jaar se verkiesing van die ANC ontslae te raak om ware vryheid te bewerkstellig.
Elke stemgeregtigde persoon in Suid-Afrika moet seker maak hy of sy is geregistreer om te stem. Wegblyers moet besef dat dit juis hul stil stem is wat die ANC vir nog ‘n termyn aan bewind kan hou.
Suid-Afrika kan die ANC nie langer bekostig nie. Hoe langer die huidige regering aan bewind bly, hoe meer raak vryheid op elke gebied weggekalwe en hoe swakker raak die ekonomie.
Die VF Plus sal nie ophou om te wys op die ongeregtighede van swart ekonomiese bemagtiging (SEB) en regstellende aksie (RA) nie, want solank daar rasdiskriminerende wette bestaan, sal minderhede in Suid-Afrika nie waarlik vry wees nie.
Die party het hierdie week sy omvattende ekonomiese herstelplan vir Suid-Afrika bekend gestel waarin bevestig word tot in watter mate SEB die ekonomie striem.
In die plan word aangedui dat meer as 16 miljoen mense in 2019 werk gehad het en tans het minder as 16 miljoen mense werk.
Die party herbevestig in die plan sy voorstel om SEB te vervang met ‘n beleid van swart ekonomiese vaardigheidsoordrag, in Engels Black Economic Skills Transfer (BEST).
Die realiteit is dat die regering na bykans dertig jaar steeds rasgegronde beleid en wetgewing wat veral minderhede teiken, uitbrei en verskerp.
Twee weke gelede het president Cyril Ramaphosa die jongste wysigingswetsontwerp van die Regstellende Aksie-wet afgeteken.
Dit gee selfs groter magte aan die minister van arbeid om verdere rassekwotas eensydig op die private sektor af te dwing.
In die proses speel meriete en bevoegdheid geen rol nie, slegs kleur. Vaardigheidsoordrag en -ontwikkeling vind nie plaas nie en eindelik word almal in die land benadeel.
Die ANC mislei die publiek deur voor te gee hy staan vir grondwetlike regte en vryheid vir almal. Wanneer miljoene mense nie werk en kos het of ‘n dak oor die kop nie, is vryheid sonder betekenis.
Die publiek sal eindelik self moet optree om hul vryheid in te bekom en ’n toekoms vir hulle en hul kinders te skep. Dit kan in 2024 by die stembus gedoen word.