Die VF Plus in Gauteng het tydens ‘n sitting van die Paaie- en Vervoerkomitee in die Gautengse Wetgewer dit duidelik gemaak dat die begroting vir die uitbreiding van die Gautrein eers aan die komitee voorgelê moet word alvorens daar ‘n besluit rondom die projek geneem kan word.
Die Gautrein Bestuursagentskap is besig met beplanning vir die uitbreiding van die Gautrein na gedeeltes aan die Oosrand en na Lanseria-lughawe aan die Wesrand.
Die agentskap het tydens ‘n vorige sitting van die komitee, in antwoord op ‘n vraag van die VF Plus oor die begroting gesê die begroting is by die nasionale tesourie.
Die VF Plus dring egter daarop aan dat die betrokke begroting aan die komitee voorgelê moet word om te kan sien of daar voldoende fondse beskikbaar is vir die uitbreiding van die Gautrein alvorens daar weer ‘n las op die reeds vuisvose belastingbetalers se skouers geplaas gaan word indien daar onvoorsiene uitgawes opduik.
Die VF Plus se LPW in Gauteng en lid van die komitee, mnr Philip van Staden, het gesê dat die uitbreiding van Gautrein 2 baie fyn beplan moet word en dat die projek nie weer in die hof moet eindig soos in 2006 met die totstandkoming van die huidige Gautrein nie.
“Belastingbetalers in die provinsie is reeds droog gemelk en hierdie projek moet so beplan word dat daar ‘n voldoende begroting beskikbaar is vir die uitbreidings. Indien die projek nie korrek en fyn beplan gaan word en daar nie voldoende fondse hiervoor beskikbaar is nie, kan die Gauteng-regering en die Gautrein Bestuursagentskap weer voor die hof gedaag word deur verskeie rolspelers in die provinsie.
“Die VF Plus het in die komitee aangedring op ‘n voldoende begroting vir die projek en ons sal nie ons steun aan die projek kan gee alvorens die begroting gelewer en behoorlik deurgetrap is nie, het Van Staden gesê.
Tel: 0840154722 of 011-498 5477 / 012-772 4410
epos: Philip@vf.co.za / PvanStaden@gpl.gov.za