Die Gautengse premier, David Makhura, se uitlating gedurende sy begrotingstoespraak dat die provinsie op swart ekonomiese ontwikkeling gaan fokus, is onverantwoordelik en getuig van sy onbetrokkenheid by minderheidsgroepe.
Die provinsie se ekonomiese beleid en ander programme moet op die breë bevolking fokus en nie net op die meerderheid nie.
Makhura het in sy begrotingstoespraak breedvoerig melding gemaak van die Gauteng-regering se ekonomiese ontwikkelingsprogram in “townships” om informele kleinsake ondernemings te help om goedkoop en maklik die formele sakesektor te betree.
‘n Totaal van R598 miljoen is hiervoor begroot. Hy het ook verwys na regeringshulp aan swart boere.
Die VF Plus het Makhura daarop gewys dat die ekonomiese- en maatskaplike beleid ook voorsiening moet maak vir minderheidsgroepe.
Luidens statistiek bestaan die Suid-Afrikaanse bevolking uit 19% minderhede waarvan 8,8% bruin, 7,8 % wit en 2,5% Indiërs is. (Bron: South Africa People 2020, CIA World Factbook (theodora.com))
Makhura se benadering oor minderheidsgroepe getuig van sy onkunde rondom armoede wat onder minderheidsgroepe heers.
Die VF Plus sal nie sy beleid laat vaar om te veg vir minderhede in ‘n provinsie waar ekonomiese ontwikkeling net op die meerderheid fokus nie.