Die VF Plus het die Gauteng departement van onderwys aangemoedig om ‘n spesiale skole-infrastruktuur taakspan saam te stel om nuwe skole vinniger te bou en agterstallige onderhoud op datum te bring.
Die taakspan moet bestaan uit afgevaardigdes vanuit onder andere die Gauteng onderwysdepartement, departement van infrastruktuurontwikkeling en die betrokke plaaslike regerings met magte wat koördinering van bouprojekte en onderhoud vereenvoudig en bespoedig.
So ‘n taakspan bestaande uit kundige besluitnemers behoort die geweldige tekort aan skole en agterstallige onderhoud van bestaande skole meer effektief aan te spreek.
Die VF Plus het hierdie voorstel gemaak tydens die debat oor die Gautengse onderwysdepartement se jaarverslag van 2024/25.
Die VF Plus het dit verder benadruk dat die prestasies van die departement soos die leerder-voedselprogram en die leerder-vervoerprogram indrukwekkend lyk, maar dat dit eintlik groot probleme probeer verberg.
Die feit is dat die departement nie net ‘n enorme infrastruktuur agterstand het nie, maar dat die ouditeur-generaal (OG) aangedui het dat by die R1,5 miljard se onreëlmatige uitgawes in die finansiële jaar aangegaan is.
Daar bestaan egter volgens die OG ‘n verdere moontlike onreëlmatige uitgawe van nog ‘n R1,5 miljard wat tans onder oorweging is.
Dit beteken dat die departement moontlik ‘n skandalige R3 miljard se onreëlmatige uitgawes aangegaan het.
Die departement het ook gespog dat 1403 skole tans ‘n geen-fooi status het. Die keersy hiervan is egter dat dit ‘n erkenning is dat die ekonomie nie groei nie met al meer mense wat afhanklik van die staat is. Dit is nie volhoubaar nie.
Die probleme wat die departement in die gesig staar is kompleks en multidimensioneel. Dit is egter oplosbaar.
Indien die ekonomie groei met volhoubare werkskepping sal die middelklas ook groter word met die gevolg dat al hoe meer skole in die kwintiel 4 en 5 vlakke sal inbeweeg. Dit sal geweldige finansiële druk van die departement afhaal. Daarom moet die provinsiale regering hom beywer om ideale omstandighede te skep vir die trek van plaaslike en oorsese beleggings.
Verder moet die departement beter beplan en die invloei van leerders en hulle families moduleer deur gebruik te maak van kragtige sagteware. Dit lyk egter eerder of die departement reaksionêr optree as toekoms-georiënteerd.
Die departement sal ook sy finansiële bestuur drasties moet opknap, veral rakende uitgawes.
Die eerste stap tot die daarstel van ‘n oplossingsraamwerk is die skep van ‘n kundige skole-infrastruktuur taakspan.
Waar daar ‘n wil is, is daar ‘n weg.


